Krieketskande in Christchurch

Nieu-Seeland vier die paaltjie van Kyle Verreynne. Foto: Marty Melville/AFP.

As jy vanoggend wakker gebly het met die hoop om ’n Suid-Afrikaanse terugvegpoging op die kassie te volg, was jy waarskynlik taamlik teleurgesteld. Die goeie nuus is dat jy darem voldoende slaap ingekry het.

Want dit het die Nieu-Seelandse boulaanval net ’n rapsie meer as 21 boulbeurte in Christchurch geverg om die laaste paar Protea-kolwers terug na die kleedkamer te stuur. Sodoende het die tuisspan die kragmeting met ’n beurt en 276 lopies beklink – hul eerste toetsoorwinning in 18 jaar teen die Proteas.

Boonop het hulle dit sonder die diens van sterre soos Ross Taylor, Kane Williamson en Trent Boult vermag.

En waar die vreugdevure hoog in die Kiwi’s se kleedkamer brand, moet die Suid-Afrikaners in sak en as wees.

Hulle was dan net ’n paar weke gelede op die kruin van die wêreldkrieketgolf nadat hulle met die een heldhaftige poging na die ander teen Indië vorendaggekom het.

Vandag het Suid-Afrika sy tweede grootste nederlaag in sy toetsgeskiedenis gely.

Hoe zijn de helden gevallen…

Natuurlik kan daar ’n hele paar (selfs geldige) verskonings vir hul swak vertoning wees: Die dae wat die span in kwarantyn moes spandeer, die gebrek aan ’n opwarmingswedstryd en Mark Boucher se komende tugverhoog (waarin van die spelers moet getuig) kan voorgehou word.

Tog kan ’n mens duidelik sien dat Boucher (hoofafrigter) en Dean Elgar (kaptein) aan amperse bomskok ly wanneer hulle met die media gesels.

Die hardebaard-oudpaaltjiewagter het egter steeds nie doekies omgedraai nie en gesê dat die Suid-Afrikaners se energievlakke gevaarlik laag op die veld was.

As die elftal in ’n sepie sou speel, was die titel waarskynlik iets soos Lustelose Jare.

Op sy beurt meen Elgar ook dat die span hoegenaamd nie agter verskonings wil wegkruip nie.

“Ek gaan nie iets soos die kwarantynperiode as ’n verskoning gebruik nie. Ons is hier om ons land op die krieketveld te verteenwoordig en ons moet vir enigiets gereed wees.”

Die boulers het ook gesukkel – die Kiwi’s het teen meer as vier lopies per boulbeurt gekolf, terwyl selfs die stertkantkolwers die bal met die grootste gemak na die grens gejaag het.

Volgens Elgar het sy boulaanval dalk té hard probeer om paaltjies te neem; iets wat gereeld op ’n groen baanblad kan gebeur.

“As kaptein is dit ’n hengse frustrasie wanneer die teenstanders se kolwers aan al twee kante van kolfblad lopies aanteken. Wat veldwerkplasings betref het ’n mens dan doodeenvoudig net nie ’n teenfoeter daarvoor nie.”

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 95/10 in 49,2 boulbeurte: Zubayr Hamza 25 en Matt Henry 7/23

Nieu-Seeland 482/10 in 117,5 boulbeurte: Henry Nicholls 105 en Duanne Olivier 3/100

Suid-Afrika 111/10 in 41,4 boulbeurte: Temba Bavuma 41 en Tim Southee 5/35.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Belaglike verskonings wat nou gesoek word. Was n pateties gespeel, en rassie en kie wat so groot mond was voor die toer, kom aarde toe asb, jul het Indie, tuis gewen. Markram moet die trekpas kry.

Jr ·

Yippee SA se krieket span verloor. Hoe lekker kry ek nou. Jou kolf telling is nou gelyk aan jou boulers se….. syfers. Kniel manne kniel. Maar julle het weer seker baie uit hierdie wedstryd GELEER

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.