Kriekettoets: Reën verhoed spel op tweede dag

Argieffoto

Argieffoto

Aanhoudende reën in Hobart, Tasmanië, het verhoed dat daar Sondag enige krieket op die tweede dag van die tweede toets tussen Suid-Afrika en Australië gespeel is.

As die weer dit toelaat sal die Proteas Maandag hul kolfbeurt op 171/5 voortsit met Temba Bavuma op 38 en Quinton de Kock op 28. Die Proteas is 86 lopies voor nadat die Aussies in hulle eerste beurt vir 85 lopies uitgeknikker is.

Die kolfblad en die weer sal moontlik aanhou om ʼn groot rol in hierdie toets te speel. Die Aussies se teleurstellende kolfbeurt kan in ʼn mate toegeskryf word aan die klam kolfblad en betrokke lug wat die bal laat swaai en van die blad af laat beweeg het. Die Proteas het Saterdag die toestande beter hanteer … maar môre is nog ʼn dag.

Die weervooruitsigte vir die oorblywende drie dae is goed: ʼn bietjie reën op die derde dag en mooiweer vir die vierde en vyfde dae. Dit laat genoeg tyd dat die toetswedstryd ʼn uitslag kan hê.

Suid-Afrika, wat in ʼn goeie posisie is, sal graag die toetsreeks met ʼn tweede oorwinning wil vasmaak. Australië wil die kans gebruik om te vergoed vir hul vertoning op die eerste dag en ten minste die reeksuitslag tot die laaste toets uit te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.