Krieketwêreldbeker: Proteas wil dié benadering vermy

Faf du Plessis. Foto: Cricinfo.

Oor presies 10 dae pak die Proteas vir Engeland in die openingswedstryd van die 2019‑Krieketwêreldbeker.

Eoin Morgan se span is een van die gunstelinge om met die silwerware weg te stap. Daarteenoor dra die Proteas vir eens nie die etiket as gunsteling om hul nekke nie.

Dít ten spyte van die feit dat hulle 11 van hul 13 tuiseendagwedstryde gewen het, en vir Australië weg van die huis getroef het.

Dalk is dit omdat daar al vantevore (lees 1996, 1999, 2003, 2007, 2011 en 2015) soveel van hulle verwag is, net om teleurgesteld te kyk hoe die span met leë hande van nóg ’n drukkoker-situasie wegstap.

“In die verlede wou ons soos Superman gespeel het,” het Faf du Plessis aan Cricinfo gesê.

“Ons het onder die wanindruk verkeer dat ons met elke wedstryd ’n spesiale haas uit die hoed moet pluk om te wen. Dié benadering het ons onder ongelooflike druk geplaas. Jy wen nie noodwendig die Wêreldbeker as jy in elke wedstryd iemand het wat ’n honderdtal van 50 balle slaan of ’n bouler het wat die opposisie wegblaas en 7/20 neem nie.

“Vanjaar wil ons net daarop konsentreer om ons krieket te geniet en terselfdertyd ons beste te gee. Basies om dinge te doen wat in die verlede vir ons gewerk het.”

Sewe spelers – Du Plessis, Hashim Amla, Imran Tahir, Dale Steyn, Quinton de Kock, JP Duminy en David Miller – was deel van die Proteas se 2015-veldtog, waar hulle in die laaste boulbeurt van die halfeindstryd teen Nieu-Seeland verloor het.

Die oudspeler van Griekwaland-Wes, Grant Elliot, het destyds nog die Suid-Afrikaners se hart gebreek met ’n allemintige ses van Dale Steyn se boulwerk.

Vanjaar sal spelers soos Rassie van der Dussen, Kagiso Rabada, Aidem Markram, Chris Morris, Andile Phehlukwayo en Lungi Ngidi probeer om die bordjies te verhang.

Maar hulle sal die basiese dinge reg moet doen, sonder om met elke wedstryd ’n bomenslike vertoning te verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Judge Dredd ·

Ons gaan ten minste nie “choke” hierdie jaar – want om te kan “choke” moet jy eerstens jouself in ‘n wenposisie plaas.

JohanL ·

So Judge – ek maak die afleiding jy dink die Proteas gaan nie een wedstryd wen nie? (“…moet jy eerstens jouself in ‘n wenposisie plaas”).

Net uitklaar asb.

Judge Dredd ·

Nee, dit beteken die slag as ons verloor gaan ons behoorlik verloor.
Ons sal dit miskien darem deur die groep fases maak.

JohanL ·

Dankie Judge vir uitklaar.

Ek dink as ‘n span 2 wedstryde verloor in groepfase, is jou kans goed om in uitspeelwedstryde te speel. As mens eers daar is, moet jy dan natuurlik twee goeie wedstryde agtermekaar speel om die toernooi te wen.

Om behoorlik te verloor is amper makliker om te aanvaar as ‘n “choke”. Gaan ‘n interessante toernooi wees dink ek.

Faffie ·

Met al die “beserings” het die Proteas voorbrand gemaak vir verskonings wanneer ons verloor. Faf is n meester in verskonings uitdink, die ander span was nog nooit beter nie, altyd die bal, die veld, die pitch, die weer, die ligte en en en

bloues ·

Eendag krieket word anders gespeel as toets krieket. Dit verstaan ons afrigters en kenners nie. Kepler was beskou as n uitstekende eendag speler, maar die skare het gejuig as hy vroeg sy paaltjie verloor. Baie lopies teen ‘n kolftempo van 50% beteken niks .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.