KSA binnekort ook Momentum-loos

Argieffoto.

Dit is een ramp na die ander vir die beleërde nasionale krieketbeheerliggaam.

Nadat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) besluit het om in te gryp by Krieket Suid-Afrika, het ʼn borg nou ook besluit om kop uit te trek weens die talle bestuurskwessies.

Momentum het aangedui dat hy nie sy borgskap sal hernieu wanneer dit in April 2021 verstryk nie. Die finansiëlediensteverskaffer wat sedert 2012 deel is van die nasionale krieketopset, sal nie sy borgskap van internasionale eendagwedstryde, die plaaslike eendagreeks, die nasionale klubkampioenskap en skooltoernooie verleng nie.

Momentum is die tweede groot borg wat uit KSA se sinkende bootjie spring nadat Standard Bank ook verlede jaar aangedui het dat hy sy borgskap gaan beëindig.

Hy sal egter steeds as die Protea-vroue se hoofborg aanbly totdat sy kontrak in 2023 verstryk.

“Ons vennootskap van agt jaar met KSA was baie lonend vir ons handelsmerk. Ons bydrae tot krieket in die land is ’n positiewe storie waarop ons baie trots is,” het Momentum se Carel Bosman gesê.

Hy het egter bygevoeg dat Momentum ontevrede is met die huidige stand van sake – veral wat KSA se administrasie en reputasie betref.

“Ons sal in verbinding met KSA bly om die organisasie verantwoordelik te hou om die regte ding te doen. Almal wil ’n beheerliggaam sien wat professioneel en eties bestuur word; een wat alle rolspelers se belange in ag neem. Ons wens KSA sterkte toe op die pad vorentoe.”

Hoewel KSA se rekenmeesters sal sê dat hulle ’n wins vir die 2019-’20-tydperk toon, word steeds verwag dat hulle ’n verlies van R654 miljoen oor ’n periode van vier jaar in die gesig staar. Volgens die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging is die bedrag eintlik nader aan die R1 miljard-kerf.

KSA het gister in ’n verklaring gesê dat sy vergadering met Saskok ’n stap in die regte rigting is; veral wat samewerking betref.

Kevin Pietersen het verlede week sy mond behoorlik op sosiale media oor die huidige krisissituasie by Krieket Suid-Afrika (KSA) uitgespoel.

“Ek is ongelooflik jammer vir al die wonderlike mense wat vir die organisasie werk, sowel as vir die spelers wat noodgedwonge as gevolg van hierdie ramp moet ly. Hierdie rillervertoning kan die doodskoot vir krieket wees,” het hy op Twitter geskryf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

tweeling ·

So sal dit gaan omdat politici dink hulle weet wat in sport aangaan

JN ·

“Transformasie sonder prestasie kom met n duur prys”.. Die lot wil dit maar net nie verstaan nie en min gee hul ook om.. So verval alles tot niet onder “Affirmative action” in Suid Afrika !

Kokerboom ·

Nou maar toe. Binnekort is hul totaal momentumloos!Die sluitingseremonie is dus op horizon met groot onthaal!!

Adam Adriaan ·

Ja so stort alles induie, met die hoof orkesmeesters die ANC op die poduim. Die paaltjies val met reelmaat en kolwers word telkemale skoon gebowl. Die kleedkamers is sonder spelers en die pawiljoene verlate.

Jessey ·

Sjoe, Benson & Hedges moes baie jare terug ophou borg agv wetgewing. Miskien na die grendelstaat sien ons RG Green and Blue as borg, dink hulle het genoeg geld om dit te borg, en wie weet, miskien “skyf” hulle in die posisie in.

Niklaas ·

Ek kan Momentum ook glad nie verkwalik nie. Dalks moet KSA aanklop by die BLM brigade. Hul uitkoms wag dalks daar. KSA se donker toekoms pla my nie in die minste nie.

Verslae ·

Hulle wil mos transformeer. Wat van die EFF, BLM en ANC as die nuwe borge?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.