
Minister Nathi Mthethwa. Foto: Siyabulela Duda/GCIS
Dit is nie slegs op die krieketveld waar die Proteas die wind van voor kry nie; dinge lyk ook meer beroerd as ooit tevore op die administratiewe front.
Nadat die minister van sport, Nathi Mthethwa, al vir ’n geruime tyd dreig dat hy sal inmeng indien Krieket Suid-Afrika (KSA) nie sy huis in orde kry nie, lyk dit asof die skrif nou aan die muur is vir die beleërde nasionale krieketbeheerliggaam.
Mthetwa het Sondagoggend op sosiale media sy teleurstelling uitgespreek omdat KSA se lederaad nie die wysiging aan die beheerliggaam se grondwet aanvaar het nie, ten spyte van hul aanvanklike voorneme om dit wel te doen.
Hierdie wysiging behels ’n ooreenkoms tussen die lederaadslede en die tussentydse raad, wat deur Mthetwa aangestel is om KSA uit sy administratiewe verknorsing te probeer red. Daar was onder meer gepoog dat krieket se raadslede ’n meer onafhanklike baadjie in Suid-Afrika aantrek.
Maar tydens gister se vergadering het net ses van Suid-Afrika se 14 krieketunie-presidente tot die beoogde wysiging ingestem. Terselfdertyd was vyf presidente daarteen gekant, terwyl drie buite stemming gebly het.
Met 75% stemme wat nodig is om sake te verander, lyk dit asof die minister en die tussentydse raad se strewe om ’n onafhanklike meerderheidsraad vir die toekoms in plek te kry, misluk het.
O ja, die uniepresidente se mag in Suid-Afrikaanse krieket sou aansienklik gekrimp het indien hulle ja vir die grondwetwysiging gestem het.
“Hierdie wending, saam met verskeie ander verspeelde kanse, laat die minister met geen ander uitweg as om sy regte ingevolge die Wet op Sport en Ontspanning uit te oefen nie,” het Mthetwa se kantoor in ’n verklaring gesê.
Die minister se optrede teen KSA kan beteken dat die nasionale krieketbeheerliggaam se gesag nie meer deur die departement van sport erken word nie. Hy kan ook befondsing weerhou.
Die Internasionale Krieketraad (IKR) handhaaf ’n streng beleid teen regeringsinmenging en Suid-Afrika kan uit wêreldkrieket geskors word wanneer Mthethwa inmeng.
Krieket Suid-Afrika is tans vinnig op pad na die rand van die afgrond en dit is dalk al te laat om vir ’n valskerm te soek.
MEDIA STATEMENT: Minister @NathiMthethwaSA expresses his disappointment at the failure of CSA delegates to adopt the revised MOI. pic.twitter.com/0vuGQD2QDW
— Masechaba Khumalo ????????????️???? (@MKhumalo___) April 18, 2021
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
Dit gebeur in al ons sport -tipies kommunisme-weet niks van sport nie maar wil inmeng-sokker is lankal onderdeur-tyd om te privatiseer
Gaan jy kniel daaroor smith ?
Krieket is lank al nie meer ‘n sport, dit is ‘n politieke blyspel ten koste van SA.
Schadenfreude!
En terwyl die Internasionale Krieketraad betrek word – sommer ‘n goeie tyd om die rasisme van kwotas in krieket aan die groot klok te hang.
Ha haha, reeds agv inmenging dat dit lyk soos dit lyk. Laat dit oor die afgrond val om nooit weer gesien te word nie. Buig daai knieë!