KSA kies uiteindelik sy keurderbaas

Victor Mpitsang. Foto: KSA se Twitterrekening/Sydney Mahlangu/ BackpagePix

Krieket Suid-Afrika (KSA) het uiteindelik sy keurderbaas gekies. Die voormalige snelbouler en SuperSport-kommentator Victor Mpitsang sal op 2 November amptelik die leisels by Linda Zondi oorneem.

Die gemors waarin KSA homself bevind het ook na die keurderafdeling oorgespoel en die stomme Proteas het laas tydens die rampspoedige Wêreldbeker-kriekettoernooi in ’n Engeland ’n behoorlike keurpaneel gehad.

“Die hoof van die nasionale keurkomitee is ’n ongelooflike belangrike pos en dit is een van die redes waarom die proses so lank geneem het. Ons moes seker wees van die kandidaat en Victor se getuigskrif spreek vanself,” het KSA se direkteur van krieket, Graeme Smith, gesê.

Mpitsang het twee internasionale eendagwedstryde vir die Proteas gespeel, terwyl hy meer as 100 eersterangse kragmetings agter sy naam het. As keurder het hy onder meer sy tande by die SA o.19-span geslyp waar hy gehelp het om diamante soos Kyle Verreynne en Wian Mulder te ontgin.

Smith is veral beïndruk met Mpitsang se veelsydigheid – van sy afrigter- en keurderwerk tot sy rol as ’n ontleder vir SuperSport

“Ek is opgewonde dat hy sy unieke stempel op die nasionale span sal afdruk en ek weet dat hy oorgehaal is om so gou as moontlik te begin.”

Die eerste inskrywing in sy keurderbaas-dagboek sal die komende Engelse toer wees wat op 27 November in alle erns op Nuweland begin. Die Proteas sal in ’n eendag- en T20-reeks teen die Engelse gewikkel wees.

Die grootste kopkrapper is egter om die Suid-Afrikaners se nuwe toetskaptein te kies. Smith het juis vroeër gesê dat die keurderbaars eers aangewys moet word voordat iemand Faf du Plessis se toetskaptein-skoene kan volstaan.

Temba Bavuma (Twitter @officialcsa)

Spelers soos Aiden Markram, Temba Bavuma, Dean Elgar, Rassie van der Dussen en selfs Keshav Maharaj is van die gunstelinge om die rol by Du Plessis oor te neem.

Op sy beurt kan Mpitsang nie wag om deel van die aksie te word nie.

“Sedert my uittrede in 2012 het probeer om soveel as moontlik oor die spel te leer en my kennis uit te brei,” het Mpitsang gesê.

“Ek is opgewonde oor die volgende kriekethoofstuk wat op my wag. Daar is ’n paar kwelpunte wat dringend aandag benodig en ons moet dit so gou as moontlik aanpak.”

  • Victor Mpitsang se eersterangse statistieke:

In 103 wedstryde het hy 245 paaltjies teen ’n gemiddeld van 29,80 geneem. Op die witbalkrieket-verhoog het hy 88 paaltjies teen ’n gemiddeld van 35 geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anne-Marie

Hoekom altyd….”ek is opgewonde ….” Waaroor?

Johan

Besef net een ding jy is gekies oor kwotas, nie op meriete maar sterkte vir julle.

Frank

Ten minste was hy al op ‘n krieket veld en miskien is hy analities baie goed. En hy gaan nie gedruk wees om iets teenoor ‘n ander velkleur te bewys nie. Maar eintlik het ek my lus vir SA krieket verloor. Maar nou vir wie skree ek: Aussies is skelm, Engelse pes ek, Windies skree eerder BLM as krieket speel, Indië het te veel arrogansie. Los net NZ oor.

Kokerboom

Tyd sal leer. Ekt egter opgehou krieket kyk!!