KSA loof Proteas se veggees, professionaliteit

Die Proteas het inderdaad goeie krieket gespeel, maar hulle het steeds nie vir die uitklopwedstryde gekwalifiseer nie.
(Foto: Aamir QURESHI/AFP)

Die Proteas se T20-Wêreldbekerveldtog het Saterdag tot ’n einde gekom toe hulle Engeland met tien lopies geklop het.

Selfs al het hulle heel waarskynlik die beste span in die toernooi gewen, beteken hul stadige netto lopietempo dat Australië na die toernooi se halfeindstryd deurgedring het.

Intussen het Krieket Suid-Afrika (KSA) die span vir hul veggees en professionaliteit geloof.

“Dít is ’n kampioenspan wat deurgaans karakter getoon het en ek bedank hulle saam met alle Suid-Afrikaners omdat hulle ons trots gemaak het,” het Lawson Naidoo, KSA-raadvoorsitter, gesê.

Die Proteas se Wêreldbeker-trein is vroeër byna heeltemal ontspoor toe die land se krieketraad die spelers beveel het om die knie vóór die aanvang van hul wedstryde te buig.

Quinton de Kock, wat hom aan die wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande onttrek het, het in die rigting van KSA gekap.

“Ek gaan nie jok nie. Ek was geskok toe ons op pad na ’n belangrike wedstryd aangesê is om ’n opdrag uit te voer, terwyl ’n mens tussen die reëls kon lees wat die moontlike gevolge sou wees as jy dit nie doen nie,” het die paaltjiewagter in ’n verklaring gesê.

Volgens De Kock volg drama altyd die Proteas by ’n Wêreldbeker-toernooi.

“Dit is onregverdig. Ek dink dit sou beter gewees het as ons alles vóór die toernooi kon uitklaar. Sodoende kon ons slegs daarop konsentreer om wedstryde te wen.”

Hoewel KSA later erken het dat sy tydsberekening beter kon gewees het, meen Naidoo dat Suid-Afrikaanse krieket op die voorvoet is.

“SA krieket is die uiteindelike wenner, aangesien die momentum wat verkry en die lesse wat geleer is, ons op ’n opwaartse kurwe vir die toekoms plaas – gebou op ’n fondament van uitnemendheid en inklusiwiteit.”

Die Proteas het vriend en vyand verras deur vier agtereenvolgende wedstryde – teen die Wes-Indiese Eilande, Sri Lanka, Bangladesj en Engeland – te wen. Dit is inderdaad egter te danke aan die spelers se behendigheid op die veld, eerder as die administrateurs se vertoning in die raadsaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jack ·

Nee wat.KSA is nou bly dat almal geswig het onder die BLM beleid en dat hulle nie die wit spelers hoef uit te gooi nie.Kry vir julle.Stel nie belang nie.

Frank ·

Lawson Naidoo, het jy al ooit in jou lewe ‘n krieketkolf vasgehou????????? Gmffff… Politieke puppet

N ·

Dink KSA het geweet hulle gaan weer ‘choke’ toe gebruik hulle die knieg-buig as rookskerm om aandag af te trek

Danie ·

Ja natuurlik voel ons soos wenners as ons op ons kniee staan. KSA is die grootste grap wat ek nog in sport beleef het.

Johan ·

Naidoo dan is ek nie n Suid-Afrikaner nie, ek wens hulle nie geluk nie want ek ondersteun nie BLM.

Snuffelgids ·

Ek dink die keer is chokers nie die regte woord nie, hulle het op verwagting gelewer. Niks was verwag nie, so hulle kon nie choke nie.

Harry ·

Die span trek swaar. Druk uit politieke oorde ry hulle bloots. Ek ondersteun wat Quinton de Kok gedoen het. Ek ondersteun ook Temba Bavuma se jongste opmerkings. Hierdie manne op die wys ons hoe mense in SA behandel. Ek respekteer dit. Hulle kan beter. Ek is bly ek is nie in hulle skoene nie. Well done julle ouens!

Jakes ·

KSA, ongelukkig kan jy nie krieket speel en n beker wen as kniebuig belangriker as die spel is nie. Dit is so pas weer bewys. Die Proteas moet liewer hul vaardighede opskerp en op krieket konsentreer. Al het hulle net 1 wedstryd verloor is hulle steeds nie WB materiaal nie. Jy kom in die semis op meriete en nie deur kniebuig en BLM snert nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.