KSA sê franchise-seisoen begin dán

Kugandrie Govender. Foto: KSA.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het vandag aangekondig dat eersterangse krieket binnekort hervat sal word.

Die land se professionele krieketspelers sal in drie kompetisies – ’n vierdagreeks, ’n eendagreeks en ’n vinnige mik-en-mokertoernooi – gewikkel wees. Die Mzansi Superliga is vroeër met ’n jaar uitgestel.

“Ons is dankbaar dat ondanks die laat begin tot die seisoen, dit nie nodig is om die wedstryde te verminder nie,” het Kugandrie Govender, KSA se tydelike uitvoerende hoof, gesê.

Ses spanne – wat in twee groepe ingedeel is – sal elk deel van die vierdag- en eendagreeks wees. Elke span sal ongeveer sewe wedstryde per reeks speel. Daarteenoor sal die T20-reeks – om spelers vir die Wêreldbeker-toernooi in Indië voor te berei – net uit ’n enkelronde bestaan met die twee beste spanne wat dan vir die eindstryd kwalifiseer.

“Ek kan nie die belangrikheid van ons plaaslike krieketstelsel genoeg beklemtoon nie. Dit is ’n voedingsbron vir die nasionale span en jy hoef net na die aantal spelers te kyk wat die afgelope seisoen hul buigings vir die Proteas gemaak het om die waarde daarvan te besef.”

Intussen lyk dit of KSA met sy plan voortgaan om die volledige Fundudzi-verslag aan die parlementêre sportkomitee voor te lê.

Hoewel die beleërde nasionale krieketbeheerliggaam vroeër die week ’n opsomming van die bevindings bekend gemaak het, klink dit nou asof hy ongetwyfeld met die hele sak patats vorendag sal kom.

Volgens die bevindings wat reeds bekend gemaak is, het Thabang Moroe (KSA se voormalige uitvoerende hoof) glo byna R65 000 se alkohol met die organisasie se kredietkaart aangekoop, terwyl hy ook die dienste van ’n maatskappy vir R3 miljoen bekom het – sonder om die korrekte prosedures te volg.

  • Die komende toernooie se groepe:

Franchise-reeks (vier dae):

Groep A: Cobras, Titans en Warriors

Groep B: Dolphins, Lions en Knights

Momentum-eendagreeks:

Groep A: Dolphins, Titans en Knights

Groep B: Cobras, Lions en Warriors

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Gee iemand nog werklik om?
KSA plaas spandeer julle jul tyd en geld daaraan om julle gemors uit te sorteer.

Niklaas ·

Gaap. Ek is bitter min gepla oor hul toekoms wat maar donker lyk en al hul verdere lotgevalle. Laat hul maar BLM fakkeldraers wees, wie sal nou ontsteld raak daaroor?

JBN ·

Herdoop asseblief die vinnige mik-en-mokertoernooi na die knie-knakkertoernooi en maak francois pienaar, greame smith, ab de villers en faf du plessis die hoofnarre van hierdie blm toernooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.