KSA se jaarvergadering is onbepaald uitgestel

Argieffoto.

“Nog is het einde niet in zicht” is dalk ’n tikkie Nederlands wat die netelige situasie waarin Krieket Suid-Afrika (KSA) hom tans bevind goed kan beskryf.

Die beleërde nasionale krieketbeheerliggaam sou Saterdag sy jaarvergadering gehou het waartydens hy onder meer ’n nuwe president, uitvoerende hoof en ’n paar raadslede sou verkies het.

Verskeie voormalige administrateurs het versoek dat die verkiesing eers ter syde gestel moet word sodat KSA sy huis in orde kan kry. Die brief is ook deur Ray Mali, oudpresident, onderteken.

KSA het egter gistermiddag in ’n mediaverklaring gesê dat die vergadering vir eers afgelas is. Geen alternatiewe datum is nog verskaf nie.

Volgens die verklaring is die vergadering onder meer afgelas sodat die bevindings van die forensiese ondersoek van die voormalige uitvoerende hoof, Thabang Moroe, bestudeer kan word.

Moroe is verlede week weens wanbestuur in die pad gesteek en sportminister Nathi Mthethwa het daarop aangedring om die forensiese verslag te sien.

KSA het die oorsig en implementering van die verslag se bevindings, ’n oorsig van die bestuursmodel en die uitbreiding van die werwingsproses vir raadslede as van die redes vir die vergadering se kansellasie gegee.

Dan sal KSA se transformasiebeleid en die pasgestigte transformasie-ombudsman ook eers aandag moet geniet.

Adv. Dumisa Ntsebeza is onlangs as die eerste transformasie-ombudsman aangestel. Enigiemand wat meen dat hy weens ras van geleenthede ontneem is, kan die ombudsman nader om sy saak te stel. Ntsebeza sal dan die erns van die saak en die geskikte vergoeding daarvoor bepaal.

Die projek se begroting sorg nog vir hoofbrekens, maar volgens KSA sal maatskappye en die regering om finansiële hulp genader word.

Die organisasie sê dat die uiteindelike mikpunt ’n krieketlandskap sonder enige rassisme of diskriminasie is.

Terselfdertyd weet niemand wanneer daar weer vir opslagballe op die veld, en nie in die raadsaal nie, gekoes sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

KSA weet goed dat niemand sal kan bewys dat hy weens sy ras uit ‘n span gelaat is nie. Ek wens iemand wil vir KSA vra wat transformasie dan anders beteken as “keuse volgens ras” en nie verdienste nie. Hulle “cover” hulself deeglik en maak benoude spronge.

david ·

KSA doen ‘n eierdans…..wat steek hulle weg ?
Daar was praatjies dan hulle hul eie “WAARHEIDSKOMISSIE” wil stig…waar al die beswaardes hulle klagtes kan kom le.
Alles goed en wel., maar hulle sal moet besef dat so iets in die openbaar gehou moet word–
anders is dit net skinderpartytjie….as ‘n speler kom kla, moet sy spanmaats ook betrek word..daar is mos altyd die anderkant van die saak ..?
Vreemd genoeg, hulle kla oor die “PYN” . en die pyn van ‘n kwota slagoffer ? Of dink hulle nie dat ‘n kwota slagoffer ook “PYN” ..en vernedering ervaar nie.?
KSA beweer hulle wil ‘n krieketlandskap sonder…..
Ek vra ‘n landskap waar daar KRIEKET gespeel word . Punt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.