KSA se Moroe sê jammer

Thabang Moroe. Foto: KSA se Twitter-rekening.

Die beleërde uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, Thabang Moroe, het om verskoning gevra nadat vyf joernaliste se akkreditasie vir die afgelope Sondag se Mzansi Superliga-wedstryde op die Wanderers en Nuweland opgeskort is.

Hoewel Neil Manthorp, Telford Vice, Firdose Moonda, Ken Borland en Stuart Hess weer later toegang verkry het, is KSA se optrede wyd en syd op sosiale media en deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) gekritiseer.

Volgens Moroe was 2019 ’n baie moeilike jaar vir Krieket Suid-Afrika en is dit sy verantwoordelikheid – as uitvoerende hoof – om daadwerklike oplossings vir die pad vorentoe te vind. Terselfdertyd wil hy weer vertroue in die KSA-handelsmerk opbou.

Sanef het heftig oor die akkreditasie-fiasko gereageer en in ’n verklaring gesê dat KSA soos boelies optree en dat hul gedrag onaanvaarbaar is.

“Moroe se uitlatings is kommerwekkend. Joernaliste moet toegelaat word om hul werk te doen sonder vrees vir intimidasie óf dat hulle verhoed sal word om hul werk doeltreffend te doen,” het Sanef in die verklaring gesê.

Die man in die spervuur het egter nie net vir Sanef, joernaliste, borge en KSA-raadslede om verskoning gevra nie, maar ook vir al die Protea-ondersteuners.

“Ek vra namens Krieket Suid-Afrika onvoorwaardelik om verskoning vir die foutiewe proses wat daartoe gelei het dat joernaliste se akkreditasie opgeskort is,” het Moroe gesê.

“Te veel mense het reuse-opofferings gemaak vir die reg tot vryheid van spraak en ek wil Sanef en al sy lede om verskoning vra vir enige skade wat aangerig is tydens ons oordeelsfout.”

Maar KSA se probleme is nie met dié verskoning opgelos nie.

Die voormalige Engelse kaptein, Nasser Hussain, het gesê dat Suid-Afrikaanse krieket tans in ’n gemors is.

Engeland speel later vandeesmaand die eerste van vier toetse teen die Proteas op SuperSportpark en die Suid-Afrikaners is steeds sonder ’n direkteur van krieket.

Boonop het talle talentvolle Proteas soos Duanne Olivier, Simon Harmer, Kyle Abbott en Rilee Rossouw hul heil in Engeland as Kolpak-spelers gaan soek.

Volgens Hussain kan ʼn mens tans waarskynlik ’n sterker Suid-Afrikaanse Kolpak-span as ʼn toetsspan kies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Hy moet nie net verskoning vra nie. Hy moet heeltemal bedank en uit KSA padgee.

Sarel ·

Rugby , Netbal, Atletiek , en nou Krieket. Almal word swak bestuur

Johan Pretorius ·

Krieket word uiters swak bestuur en dit is omdat mense in beheer is daarvan wat nie daar behoort te wees nie en ook nie die vermoe het om dit te bestuur nie.

Spike ·

Jy kan in die gesigsuitdrukking sien daar is niks. Los hulle dat nou alles ten laaste vernietig. Die spelers moet staak.

leser ·

weet hy ooit hoe lyk ‘n krieket bal ?
die ligte is aan, maar daars net die kat uit die huis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.