KSA stel sy T20-toernooi met ’n jaar uit

Foto: Twitter.

Die Mzansi Superliga sal nie vanjaar plaasvind nie. Krieket Suid-Afrika (KSA) het gister in ’n verklaring bevestig dat sy mik-en-moker-toernooi tot November 2021 uitgestel word.

Volgens Kugandrie Govender, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, is hierdie stand van sake te danke aan die logistieke dilemma wat die wêreldwye Covid-19-pandemie teweeggebring het.

Met die T20-wêreldbeker wat in Oktober 2021 in Indië beslis word, sal KSA ’n kort T20-reeks vroeg in die nuwe jaar van stapel stuur om sy spelers vir die internasionale skouspel voor te berei.

“Die Covid-19-beperkings, die onsekerheid rondom internasionale reise en die beheer van Suid-Afrikaanse grense het KSA genoop om hierdie besluit te neem. Die afwesigheid van nasionale spelers weens die hersiende internasionale seisoen sou ook vir ’n afgewaterde toernooi gesorg het,” het Govender gesê.

“Die feit dat ons genoop word om die wedstryde agter geslote deure te speel is nóg ’n faktor wat in berekening gebring moet word. Nie net vanuit ’n finansiële oogpunt nie, maar ook wat spangees betref. Die toeskouers se entoesiasme en geesdrif is een van die redes vir die toernooi se sukses.”

Hoewel Mzansi Superliga nie dieselfde sterre as die Indiese Premierliga lok nie, word sommige van die wedstryde goed ondersteun – veral op SuperSportpark en in die Paarl.

KSA hoop dat die teenwoordigheid van sterspelers sal help om die toernooi ’n ekstra finansiële hupstoot te gee. Volgens Cricinfo is daar nie televisie-uitsaairegte vir die afgelope paar jaar, sowel as vir vanjaar, bekom nie, met die gevolg dat KSA self vir ’n heftige uitsaairekening moes pa staan.

Argieffoto.

Intussen het die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) sy KSA-ondersoek na die Suid-Afrikaanse departement van sport verwys.

Daar is destyds berig dat Saskok beslis het dat ’n taakspan op die been gebring moet word om KSA se doen en late te ondersoek. Die krieketorganisasie weier terselfdertyd om die inhoud van die forensiese verslag (wat onder meer tot sy voormalige uitvoerende hoof, Thabang Moroe, se afdanking gelei het) met die wêreld te deel.

In sy skrywe aan Nathi Mthethwa, Suid-Afrika se minister van sport, het Saskok sy misnoeë uitgespreek oor KSA se gebrekkige samewerking in hierdie verband, asook dat hy self nie oor die nodige hulpbronne beskik om situasie op sy eie te ontlont nie.

Maar indien die minister besluit om by die KSA/Saskok-tweestryd in te gryp, kan dit rampspoedige gevolge vir Suid-Afrikaanse krieket op die internasionale verhoog hê.

Die Internasionale Krieketraad (IKR) duld nie regeringsinmenging nie en lidlande kan deur moontlike skorsing in die gesig gestaar word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Laaste persoon uit sit asb die ligte af.

Robert

Maak KSA toe en stig ‘n private Krieketraad wat daarop uit is om die publiek te dien en nie op politiek se rug ry nie.

Adam Adriaan

Sal in die toekom net in die geskiedenis boeke lees van die oudae toe daar nog krieket/rugby in SA gespeel was. Tyd het aangebreek dat internasionale spanne nie meer met SA sal wil meeding nie, want hulle sal nie meer wil kompeteer met derde/vierde rangse spanne nie Die bestuur en die beheer oor die SA sport spanne is ‘n klug.