KSA trek Smith weer nader

Graeme Smith. Foto: Twitter.

Graeme Smith sal aan die stuur van Krieket Suid-Afrika se splinternuwe T20-reeks wees. Die nasionale krieketbeheerliggaam het omtrent die heuningkwas uitgehaal toe die aankondiging gemaak is.

“Krieket se suksesvolste toetskaptein en voormalige openingskolwer, Graeme Smith, sal die leisels van die nuwe T20-reeks vasvat en oor alle aspekte (krieket- en nie-krieketaangeleenthede) toesig hou,” het KSA in ’n verklaring gesê.

Smith se “ontsaglike” ervaring en kennis van die spel, danksy sy rol as speler, kaptein, kommentator en ambassadeur van die spel, is veral geloof. Hy was tot onlangs ook KSA se eerste direkteur van krieket, maar hy het nie weer vir die pos aansoek gedoen nie.

Smith is vroeër van rassisme beskuldig, maar twee onafhanklike arbiters het bevind dat die bewerings geen gewig dra nie, terwyl KSA ook vir sy regskoste verantwoordelik was.

“Ek het goed saam met Graeme gewerk toe hy die direkteur van krieket was en ek glo dat hy die beste kandidaat is om hierdie nuwe hoofstuk vir Suid-Afrikaanse krieket in te lui,” het Pholetsi Moseki, KSA se uitvoerende hoof, gesê.

“Sy kundigheid – veral wat plaaslike en internasionale krieket betref –  sal verseker dat die liga ’n opwindende produk lewer wat Suid-Afrikaanse krieket ten goede sal verander.”

Op sy beurt het Smith weer eens sy lojaliteit jeens Suid-Afrikaanse krieket beklemtoon.

“Ek voel uiters geëerd om hierdie opwindende nuwe avontuur te lei. Ek is toegewyd aan Suid-Afrikaanse krieket en wil die spel na die beste van my vermoë dien,” het die oudkaptein gesê.

Volgens Smith kan die nuwe mik-en-moker-reeks vir ’n broodnodige finansiële inspuiting sorg, terwyl dit ook ’n platform vir plaaslike en internasionale spelers kan bied om hul vaardighede uit te stal.

KSA het vroeër bevestig dat die Proteas nie meer in Januarie 2023 aan ’n internasionale eendagkrieketreeks in Australië sal deelneem nie.

Die plaaslike T20-toernooi (wat vroeg volgende jaar begin) en ’n propvol internasionale krieketkalender word as die hoofredes vir die besluit voorgehou.

“Dit was ’n baie moeilike besluit, maar die langtermyn-volhoubaarheid van ons nuwe T20-liga is daarvan afhanklik om al ons plaaslike spelers beskikbaar te hê vir hierdie opwindende nuwe toevoeging tot die Suid-Afrikaanse krieketkalender,” het Moseki destyds gesê.

Hy het vooraf met belangrike rolspelers soos Mark Boucher (hoofafrigter), Temba Bavuma (witbalkrieketkaptein) en Dean Elgar (toetskrieketkaptein) beraadslaag.

“Die spelers is inderdaad teleurgesteld dat die eendagwedstryde in Australië nie sal plaasvind nie, maar hulle het begrip vir die redes. Baie mense het geld in die T20-toernooi belê en ons moet dit ’n kans gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokerboom ·

KSA: ‘n Jakkals verander van haar maar nie van snaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.