Kyk: Andre kry uiteindelik vir AB terug

Andre Russell het uiteindelik vir AB de Villiers uitgehaal. Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP.

Andre Russell moet eintlik nie baie daarvan hou wanneer AB de Villiers voor die paaltjies is nie. Die groot snelbouler het harde bene gekou toe die Suid-Afrikaanse kolwer destyds die vinnigste 100-tal én 150-tal teen die Wes Indiese Eilande gemoker het.

Vroeër vanjaar het hy hom ook teen ’n veglustige De Villiers tydens die Indiese Premierliga in Indië vasgeloop.

Russell, wat toe van om die paaltjies geboul het, het ’n baie vol aflewering buite die kolwer se wegpen afgevuur, waarna die sterkolwer op die een of ander manier die bal in die gaping tussen die paaltjiewagter en die wye gangetjie na die grens gejaag het.

Iemand soos Virender Sehwag meen dat net De Villiers dáárdie hou kon gespeel het.

Maar gister in Abu Dhabi het Russell – getooi in die kleure van die Kolkata Knight Riders – die Royal Challengers Bangalore-ster in eie munt terugbetaal toe hy met die perfekte streepbal vorendag gekom het.

Die aflewering het deur De Villiers se verdediging geblits om sy bypen te tref. Dit was boonop die eerste aflewering wat die Suid-Afrikaner trotseer het.

Die ander RCB-kolwers het ook nie veel weerstand gebied nie en hulle is vir slegs 92 lopies uitgeknikker. Nodeloos om te sê het die Knight Riders die wedstryd op ’n drafstap met nege paaltjies gewen.

Faf du Plessis is ook vroeër vir ’n nulletjie deur die Mumbai Indians se Trent Boult uitgehaal, maar die Chennai Super Kings het steeds die wedstryd met 20 lopies gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.