
Dewald Brevis. Foto: Twitter.
Indiese krieketliefhebbers was seker bra skepties toe Mumbai Indians die dienste van die 18-jarige Dewald Brevis vir die Indiese Premierliga bekom het.
’n Mens kies mos nie ’n wildvreemde jong speler nie. Selfs al is sy bynaam “Baby AB” en al het hy sy stempel dubbel en dwars by die afgelope o. 19-Wêreldbeker afgedruk.
Maar ná gisteraand se wedstryd tussen Mumbai en Punjab Kings is Brevis ongetwyfeld die naam op almal se lippe.
Die Pretorianer het 49 lopies van slegs 25 aflewerings gemoker en hy het veral van Rahul Chahar se boulwerk gehou.
Hy het onder meer ’n rits agtereenvolgende sesse van die draaier se boulwerk gemoker. Een van sy pogings was ’n monsteragtige grenshou van 112 m – dit is die verste wat die bal nóg in vanjaar se toernooi gemoker is.
Moenie verbaas wees as daar nou opgewonde krete van “DB” gehoor word voordat die jong ster gereed maak om te kolf nie.
Shukri Conrad, die afrigter van Suid-Afrika se o. 19-krieketspan het ook vroeër Brevis se lof besing nadat hy 506 lopies teen ’n gemiddeld van 84,33 by die Wêreldbeker geslaan het.
“Hy is AB de Villiers 2.0,” het Conrad gesê.
Hokaai, stoppie lorrie – dit is nie altyd goed om sportsterre met mekaar te vergelyk nie. Boonop sal Brevis ook heel waarskynlik sy eie krieketpad wil stap, maar goeiste: Dit moet ’n hengse eer wees om met De Villiers vergelyk te word.
Daar is immers ’n string ooreenkomste tussen die twee spelers: Van hul ongelooflike houespel tot dieselfde nommer (17) op hul rûe en dieselfde skool (Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria).
“Ek was nog altyd mal oor die manier waarop AB gespeel het – hoe hy lopies oor die hele veld kan slaan, asook die manier waarop hy boulers aanvat en sy aggressie. Ek het al baie met hom gesels en dit is spesiaal vir my,” het Brevis gesê.
Hy slaan nou sy lopies teen ’n gemiddeld van 28,66 en ’n treftempo van 156,36. Die Protea-keurders moet hom eintlik in watte toedraai. Die vraag is net of hulle dit gaan doen.
Dewald Brevis smashes 4️⃣6️⃣6️⃣6️⃣6️⃣ pic.twitter.com/5PS9TqAbyB
— SA Cricket magazine (@SACricketmag) April 14, 2022
Remember the name, Dewald Brevis????????????????
????: Disney+Hotstar pic.twitter.com/ok3WAyi246
— CricTracker (@Cricketracker) April 13, 2022
Biggest six of the season so far – Dewald Brevis with a 112M monster. pic.twitter.com/DwnlNObxCv
— Mufaddal Vohra (@mufaddal_vohra) April 13, 2022
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Pragtig boeta!!!
Wonderlike talent(e) en wees te alle tye nederig soos ABdeV.
Wat is in Affies se water?????
‘n Te groot talent om buite rekening te laat. Hoe gouer hy in die Protea opset kom, hoe beter. Dit maak mens opgewonde wanneer so ‘n besonderse talent so vroeg op die voorgrond tree. Hy kan jare vir die Proteas speel. Dis eintlik skrikwekkend hoe goed hy kan word met meer internasionale ondervinding.