Kyk: Drie op ’n ry vir Tahir

Imran Tahir laat die paaltjies steeds spat. Foto: Saeed Khan/AFP.

Op 42-jarige ouderdom het Imran Tahir gewys dat hy steeds tussen die paaltjies kan baljaar toe hy gister ’n driekuns op Edgbaston behaal het.

Tahir, wat vir die Birmingham Phoenix in die Hundred-reeks in Engeland speel, het ’n sleutelrol in sy span se oorwinning van 93 lopies teen die Welsh Fire gespeel.

Hy het in agtereenvolgende aflewerings van Qais Ahmad, Adam Milnes en David Payne ontslae geraak om met uiteindelike boulsyfers van 5/25 te spog.

Die Hundred-reeks is ’n splinternuwe krieketinisiatief en spanne moet probeer om soveel moontlik lopies in 100 aflewerings te slaan. Dit sorg vir hope sesslaan-vermaak en as T20-krieket die krieketwêreld se kitskosrestaurant is, dan is die Hundred ongetwyfeld die sausage roll wat jy gou by die vulstasie gaan koop.

Maar vir statistiese doeleindes word ’n Hundred-wedstryd as ’n T20-kragmeting beskou. Tahir is dus die oudste speler om vyf paaltjies in ’n T20-kragmeting te laat spat.

Die gewilde bybreek-bouler het ná die Proteas se rampspoedige Wêreldbeker-veldtog in 2019 uit internasionale krieket getree. Hy is egter steeds by verskeie T20-reekse in aksie en daar bestaan selfs ’n (baie) klein moontlikheid dat hy deel van die Proteas se groep vir die komende T20-wêreldbeker kan wees.

Tahir het nou 404 paaltjies in sy T20-loopbaan teen ’n gemiddeld van 19,72 geneem, terwyl hy minder as sewe lopies per boulbeurt afstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.