Kyk: Engelse krieketster word baron Botham

Foto: House of Lords via AP.

As speler was Ian Botham een van krieket se talentvolle stout seuns. Stories word vertel van sy bierdrink-avonture, daggarook-sessies en heldedade met die bal en kolf vir Engeland.

Maar “Beefy” soos wat hy in die krieketwêreld bekend staan, het duidelik ook ’n meer ernstige kant en hy is vandeesweek amptelik as ’n lid van Brittanje se House of Lords ingehuldig.

Die 64-jarige is deur die Britse eerste minister, Boris Johnson, vir die eer genomineer en sy inhuldiging het ook vir ’n tikkie humor gesorg. ’n Tegniese probleem het die verrigtinge effens vertraag waarop die speaker, die 82-jarige lord Norman Fowler, tong in die kies geskerts het dat spel vir eers deur reën opgehou word.

Hy sal voortaan as baron Botham van Ravensworth bekend staan.

As krieketspeler was hy een van wêreldkrieket se eerste supersterre. Hy het in 102 toetse vir Engeland 383 paaltjies en 5 200 lopies geslaan. Hy word veral vir sy heldedade in die Reeks om die As in 1981 onthou toe hy amper eiehandig die Aussies ore aangesit het.

Ná sy uittrede in 1993 het hy die kolf vir ’n mikrofoon verruil en ’n gerespekteerde krieketkommentator geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae