Kyk: Jonty bly maar Jonty

Jonty Rhodes (middel) saam met Brian Lara en Sachin Tendulkar. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

Trú van punt. ’n Veldwerkposisie wat Jonty Rhodes in die 90’s sy eie gemaak het.

Maak nie saak of hy vir Inzamam-ul-Haq op skouspelagtige wyse in ’n Wêreldbeker-wedstryd uitgehardloop het of vyf vangskote teen die Wes-Indiese Eiland benut het nie; Rhodes het jong spelers wêreldwyd geïnspireer om baie meer aandag aan hul veldwerk-vaardighede te gee.

“Ek was absoluut mál oor veldwerk. Die feit dat ek ’n paar ander sportsoorte op skool gespeel het (hy was ook ’n kranige hokkiespeler) het my baie gehelp. Ek het baie van die vaardighede wat ek in hokkie, sokker en tennis geleer het, op die veld toegepas,” het Rhodes destyds aan Maroela Media gesê.

Maar as jy gedink het dat sy swaeltjie-duikslae iets van die verlede is, sit jy die pot baie ver mis.

Rhodes, nou 51 jaar oud, het die horlosie in die Road Safety-wêreldreeks ordentlik teruggedraai. Nie net slaan hy sy lopies teen ’n gemiddeld van 94,00 en ’n treftempo van meer as 128 nie, hy is ook so skerp in die veld soos altyd.

In die Proteas se laaste wedstryd teen Bangladesj het Mehrab Hossain gedink hy kan ’n vinnige enkellopie vanaf Makhaya Ntini se boulwerk steel.

Hy het homself egter liederlik met Rhodes se spoed en akkuraatheid misgis en die ratse Suid-Afrikaner het dit verspotmaklik laat lyk om die paaltjies plat te gooi.

Kort daarna is Rhodes soos van ouds deur al sy spanmaats geluk gewens. Soos wat Wisden tereg opmerk: “Dit voer ons terug na die 90’s”.

  • Rhodes se aksie begin ná 20 sekondes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.