Kyk: Shepherd slaan 32 van Nortjé-boulbeurt

’n Argieffoto van Anrich Nortjé. (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

4, 6, 6, 6, 4 en 6.

Dít is wat tellinghouers langs Anrich Nortjé se naam in die 20ste boulbeurt van die Indiese Premierliga-wedstryd tussen die Delhi Capitals en die Mumbai Indians in Mumbai moes neerskryf.

Romario Shepherd, die tuisspan se Wes-Indiese invoerproduk, het vir die wilgerlatvuurwerkvertoning gesorg om toe te sien dat die Indians 234/5 in hul toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

Nortjé – wat heel skaflik in sy eerste twee boulbeurte geboul het – moes uiteindelik tevrede wees met ʼn boulontleding van 2/65 in sy vier boulbeurte.

Kolwers teiken deesdae beslis die Protea-blits.

In elk van sy drie wedstryde in aanloop tot vandag se kragmeting het hy meer as tien lopies per boulbeurt afgestaan.

Hy het weliswaar drie paaltjies teen die Kolkata Knight Riders laat kantel, maar hy is nogtans vir 59 lopies geslaan.

Nortjé word as een van Suid-Afrika se vinnigste boulers gereken en ʼn seisoen of twee gelede was hy die Proteas se topspeler in ʼn rampspoedige toer na Australië.

Maar ʼn laerugbesering het hom uit die afgelope Wêreldbekertoernooi in Indië gehou en sy laaste internasionale wedstryd was verlede September.

Hy het intussen aangedui dat hy vir eers net op T20-krieket wil konsentreer en daar is teen ʼn nasionale kontrak besluit.

“Anrich het ʼn moeilike tyd agter die blad en sy laaste krukkelyssessie was ʼn lang een. Hy het gevra of hy vir eers net op sy herstelpad kan konsentreer sodat hy weer op alle suiers kan vuur. Hy wil die volgende 12 maande gebruik om sterker te word en ons sal kyk hoe dinge uitdraai,” het Enoch Nkwe, Krieket-Suid-Afrika se direkteur van krieket, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.