Laura aan die brand in Australië

Laura Wolvaardt in aksie vir die Adelaide Strikers. Foto: Twitter.

Een van Suid-Afrika se blinkste vrouekrieketsterre, Laura Wolvaardt, is tans die voorste lopiemaker in Australië se Big Bash League.

Die 21-jarige Kapenaar het in haar wedstryde vir die Adelaide Strikers reeds 142 lopies teen ’n gemiddeld van 35,50 geslaan. Hoewel haar lopies teen ’n effense stadige T20-pas (treftempo van 116,39) geslaan word, het sy reeds ’n sleutelrol of twee in ’n Strikers-oorwinning gespeel.

Haar onoorwonne beurt van 51 lopies van 41 aflewerings het gesorg dat die Adelaide-span die Hobart Hurricanes met agt paaltjies getroef het.

Die talentvolle kolwer het vroeër vanjaar met drie toekennings – waaronder krieketspeler van die jaar – by Krieket Suid-Afrika se virtuele toekenningsgeleentheid weggestap.

Sy het reeds 50 eendagwedstryde en 25 T20-kragmetings vir die Proteas gespeel, terwyl sy met ’n paar skittervertonings by die onlangse T20-wêreldbeker in Australië vorendag gekom het.

Die Suid-Afrikaners het vir die halfeindstryd van die toernooi gekwalifiseer, waar hulle op hartverskeurende wyse teen die Aussies verloor het.

Reën het ’n groot invloed op die wedstryd gehad en die Proteas se wenteiken is na 98 lopies in 13 boulbeurte aangepas.

Die Suid-Afrikaners het in ’n stadium op 24/3 gewankel, maar ’n sprankelende kolfbeurt deur Wolvaardt (41 van 27 balle) het so amper die wa vir die Proteas deur die drif getrek. Hulle het egter dié naelbytkragmeting met ses lopies verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mad Mike die Rhodesiër ·

Vat hom, flaffie! Dis nou ‘n vrou wat haar bal kan slaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.