Lee-honderdtal sorg vir Protea-plesier

Argieffoto van Lizelle Lee. Foto: Saeed Khan/AFP.

’n Uitstekende onoorwonne beurt van 132 deur Lizelle Lee het gesorg dat die Proteas se vrouekrieketspan die derde eendagwedstryd teen Indië met ses lopies gewen het.

Selfs die reënweer kon die openingskolwer nie in haar spore stuit nie en sy het toegesien dat haar span die kragmeting met ses lopies danksy die Duckworth/Lewis-metode gewen het.

Indië se Mithali Raj het vandag slegs die tweede vrouekolwer geword om 10 000 lopies op die internasionale verhoog te slaan, maar haar beurt van 36 is heeltemal deur Lee oorskadu.

Die Suid-Afrikaner is tans die voorste lopiemaker in die reeks en sy spog met ’n gemiddeld van 219. Haar beurt het 16 viere en twee sesse ingesluit en sy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Selfs toe die Proteas vir Mignon du Preez (37) en Marizanne Kapp (0) kort agtereenvolgens verloor het, het sy koelkop gebly om die Suid-Afrikaanse skip na ’n veilige hawe te stuur toe die reën begin val het.

Vroeër in die dag het Shabnim Ismail (2/46) se akkurate boulwerk weer eens die tuisspan op die agtervoet geplaas, terwyl Ayabonga Khaka gesorg het dat die lopiekrane toe bly deur slegs 39 lopies in haar tien boulbeurte af te staan.

Die talentvolle Laura Wolvaardt het die span aangevoer nadat Suné Luus haar skielik uit die beginelftal moes onttrek.

Die Proteas loop nou met 2–1 voor in die reeks van vyf wedstryde. Die vierde wedstryd word Sondag beslis.

Reeksuitslae:

Eerste eendagwedstryd: Suid-Afrika wen met agt paaltjies.

Tweede eendagwedstryd: Indië wen met nege paaltjies.

Derde eendagwedstryd: Suid-Afrika wen met ses lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.