Legendariese krieketsterre weer in Wêreldbeker-aksie

Die oomblik toe Jonty Rhodes ’n krieketsuperster geword het. Foto: Facebook.

Ongeveer 28 jaar nadat hy vir Inzamam ul-Haq op skouspelagtige wyse in die 1992-Wêreldbekertoernooi uitgehardloop het, sal Jonty Rhodes weer eens in aksie vir ’n Suid-Afrikaanse krieketspan wees.

Hy is saam met ander Protealegendes soos Dave Callaghan, Alan Dawson en Louis Koen vir die Proteas se span vir spelers ouer as 50 jaar gekies wat in hul Wêreldbekertoernooi in Kaapstad sal deelneem.

Die span word deur Allan Donald afgerig, terwyl Callaghan as die kaptein aangewys is.

Die 54-jarige Callaghan het as veelsydige speler in 146 eersterangse wedstryde vir Oostelike Provinsie gespeel, terwyl hy in 29 eendagwedstryde vir die Proteas in aksie was.

Sy briljante onoorwonne beurt van 169 teen Nieu-Seeland was vir ’n ruk die Suid-Afrikaanse rekord, totdat Gary Kirsten vir die Verenigde Arabiese Emirate se boulaanval gedurende die 1996-Wêreldbekertoernooi aan flarde geslaan het om 188 aan te teken.

Allan Donald. Foto: ANA.

“Dit is ’n fantastiese eer om weer vir ’n amptelike Suid-Afrikaanse span te speel; nie een van ons het ooit gedink dat ons weer die kans sou kry nie,” het Callaghan gesê.

“Ons het ’n sterk span op papier en ek kan julle verseker dat ons al lekker hard geoefen het. Daar word hoofsaaklik meer draaiboulers in dié tipe krieket gespeel, maar die meeste van ons kan ’n bal nog net so hard soos in ons speeldae slaan. Om ouer as 50 te wees, beteken beslis nie dat jy oud is nie!”

Australië is die verdedigende kampioen nadat hy Pakistan met slegs drie lopies in 2018 geklop het.

Die toernooi is 10-24 Maart in Kaapstad. Suid-Afrika is saam met Engeland, Indië, Namibië, Pakistan en Wallis in Groep B.

  • Die Suid-Afrikaanse span: Jonty Rhodes, Dave Callaghan (kaptein), Louis Koen, Alan Dawson, Pieter Strydom, Kenny Jackson, Dave Holgate, Anwell Newman, Neil Fusedale, Rodney Malamba, Mlungisi ‘Lefty’ Ngece, Dave Duncan, Warne Rippon, Brad Player, Nazeem White, Henry Williams. Hulle word deur Allan Donald afgerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

charmaine ·

Ag jis…nou gaan dit seker weer op DSTV uitgesaai word!! Ek wil dit ook siennnnnn!!!!!!

Ray ·

” Tong in Kies”

Is die span verteenwoordigend genoeg?

Meer Ernstig:

Proteas, maak seker julle is teenwoordig, julle mag dalk iets leer, die manne weet wat hulle doen.

Sterkte vir die span

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.