Lions wen trofee ten spyte van Smuts-blitzkrieg

Die Warriors se Jon-Jon Smuts. Foto: Cricinfo.

Dit was Sondag in die eindstryd van die plaaslike T20-finaal basies ’n geval van die Lions teen Jon-Jon Smuts gewees. Want al was die Warriors aan die verloorkant met 11 lopies, het hul kaptein hulle so te sê man alleen in die stryd gehou.

Ná die Lions-kaptein, Themba Bavuma (104 van 63 balle) en Rassie van der Dusssen (73 van 41 balle) se vennootskap van 165 gesorg het dat die tuisspan ’n skitterende 203/3 in hul toegelate 20 boulbeurte opgestapel het, het dit gelyk asof die Warriors nooit die mas in die wedstryd sou opkom nie.

Veral nie toe hulle op 56/5 in hul lopiejaagtog gesteier het en Bjorn Fortuin (4/27) amok onder die Oos-Kaapse kolwers gesaai het nie.

Maar Smuts (121 van 60 aflewerings) het uitstekend met die stertkantkolwers gekombineer en die Lions het al hoe meer foute in die veld begin maak.

Lizaad Williams (2/49) het met die laaste aflewering van die 19de boulbeurt ’n foutbal afgestuur wat Smuts terstond vir ’n ses gemoker het. Skielik moes die Warriors – wat met vyf paaltjies plat in die sesde boulbeurt nie kat se kans gestaan het nie – net 18 lopies van die laaste boulbeurt aanteken. En met Smuts – wat die eerste bal van Migael Pretorius se laaste boulbeurt vir ’n ses geslaan het – was enigiets moontlik.

Maar die Warriors-kaptein is met die daaropvolgende aflewering goed deur Nono Pongolo op die grens uitgevang. Sy beurt het uiteindelik 11 viere en sewe tamaaie sesse ingesluit. Die tweede hoogste telling in die Warriors se beurt is  Onke Nyaku se 27.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KJ ·

Dit was n great game! Warriors, daai knaap wat 3 overs en 55 lopies afgestaan het, toe bowl jul hom wéér! 4 overs 0 vir 69, het julle die game gekos.

Johan ·

So gehoop die Warriors maak dit ! Baie goeie terugvegpoging gewees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.