Luister: Tweejarige ken hele Proteaspan – Phehlukwayo en al!

Klein Albert Kruger slaan tongknoper-vanne vir ’n ses. Foto: Verskaf.

Aussie-krieketkommentators soos Brendan Julian en Adam Gilchrist het hulle in vorige eendagreekse boeglam gesukkel om die Proteas se veelsydige sterspeler, Andile Phehlukwayo, se naam korrek uit te spreek.

Maar met net ’n vinnige “ek-soek-’n-wenk”-versoek, laat die tweejarige Albert Kruger vir Gilchrist en kie bloos. Want hierdie mannetjie kén sy Proteas: Van Phehlukwayo tót Rassie van der Dussen én Tabraiz Shamsi.

“Klein Albert se geheue is net ongelooflik. Hy kan byvoorbeeld al die karakters in ’n storieboek se name onthou as ons dit net twee keer vir hom voorgelees het,” sê dié blitsbrein-tjokker se trotse pa, Andries.

Die Kruger-egpaar speel gereeld die spelers se profielvideo’s op YouTube, terwyl hulle ook vertoonkaarte gemaak het wat hom help met die onthouproses.

“Andile (Phehlukwayo) se naam kry hy verbasend self baie mooi reg. Hy hou altyd jou mond baie stip dop om te sien hoe jy dit uitspreek; dan kry hy dit binne ’n paar probeerslae self reg.”

Op die klankgreep kan ʼn mens hoor hoe hy vir ’n wenk vra, en dan ná ’n paar sekondes “Phehlukwayo” soos ’n wafferse moedertaalspreker uitspreek.

So tussendeur die vanne-opsê-werk, speel kleine Albert ook self lekker krieket met sy MRF-handtekeningkolf, of met sy pa se kriekettoerusting.

Tans verkies hy kolf- bo boulwerk – hoofsaaklik omdat hy daarvan hou om die bal goed te slaan.

Wie is sy gunstelingspeler dan?

Snaaks genoeg is die antwoord op dié vraag ietwat van ’n verrassing. Dit is vermoedelik die draaier, Tabraiz Shamsi.

“Hy sê partykeer – net om snaaks te wees – Faf (du Plessis) is Shamsi, of Kagiso (Rabada) is Shamsi. Maar eintlik dink ek net hy hou van hoe ‘Shamsi’ klink, dit is nie noodwendig sy gunstelingspeler nie.”

Wie dink die Krugers gaan die Wêreldbeker wen?

“Ons gesin ondersteun definitief die Proteas, tog dink ek dat dit te vroeg is om ’n enkele span uit te sonder – daar kan baie dinge gebeur. Engeland, Wes-Indië, Indië, Suid-Afrika en Australië staan almal goeie kanse.”

Die Proteas speel vandag teen Engeland in die openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi.

Sal Albert “Eoin Morgan” net so mooi onthou? Kom ons hoop nie so nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.