
Suné Luus. Foto: Saeed Khan/AFP.
Reën het weliswaar die wedstryd tussen die Protea-vrouekrieketspan en die Wes-Indiese Eilande in die wiele gery, maar die Suid-Afrikaners kon steeds vir die Wêreldbeker-halfeindstryd kwalifiseer.
Die wedstryd is ná slegs 10,5 boulbeurte – en met die Proteas se telling op 61/4 – beëindig. Al twee spanne het ’n punt verdien wat beteken dat die Suid-Afrikaners tweede op die punteleer ná Australië is.
“Ons is ongelooflik opgewonde om in die halfeindstryd te speel; dit is ’n droom wat waar geword het,” het ’n opgewonde Suné Luus (kaptein) gesê.
Die Proteas moet nog Sondag teen Indië in Christchurch speel voordat die uitspeelwedstryde op 30 Maart begin.
“Ons probeer om op een wedstryd op ’n slag te fokus en ons sal graag op ons momentum wil voortbou. As ons Sondag wen sal dit beslis ’n welkome hupstoot vóór die halfeindstryd wees.”
Die Suid-Afrikaners beskik oor die nodige skietgoed om nie net goed teen die Indiërs te vertoon nie, maar ook om ’n barshou in die halfeindstryd te speel.
Laura Wolvaardt slaan haar lopies teen ’n gemiddeld van 58,83 in die toernooi, terwyl Shabnim Ismail gereeld vir ’n vuurwerkvertoning sorg wanneer sy boul.
Laastens lewer Marizanne Kapp die een skittervertoning na die ander. ’n Kolfgemiddeld van 50 en ’n boulgemiddeld van 20,70 is vergelykbaar met Lance Klusener se heldedade in die 1999-Wêreldbekertoernooi in Engeland.
- Punteleer:
- Australië: 12 punte
- Suid-Afrika: 9 punte
- Wes-Indiese Eilande: 7 punte
- Engeland: 6 punte
- Indië: 6 punte
- Nieu-Seeland: 4 punte
- Bangladesj: 2 punte
- Pakistan: 2 punte
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Voorspoed vir die halfeind. Ek vang maar op met die heruitsendings want die wedstryde is nie in ‘n lekker tydgleuf nie.
Sterkte aan julle en julle maak ons trots