Luus skram nie weg van kapteinskap, druk

Suné Luus (argieffoto) (Foto: Saeed Khan/AFP)

Die Protea-vrouekrieketspan sit vandag die bal aan die rol wanneer hulle teen Sri Lanka in die openingswedstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi op Nuweland speel.

In die afwesigheid van Dané van Niekerk is Marizanne Kapp, Laura Wolvaardt en Shabnim Ismail die span se groot sterre, terwyl Suné Luus ook altyd ʼn uitblinker is.

Die 27-jarige Luus sal weer eens die kapteinskapleisels in Van Niekerk se plek vasvat en sy sien uit na die uitdaging.

“Dit is nooit maklik om die instaankaptein te wees nie – jy is altyd een voet in en die ander voet uit. Maar in my grootwordjare was ek altyd ʼn leier in die spanne waarvoor ek gespeel het; dus is leierseienskappe iets wat natuurlik vir my is en ek sal graag meer in dié posisie wil groei,” het Luus gesê.

Australië is oudergewoonte die gunstelingspan om met die louere weg te stap. Hulle is die wêreld se voorste T20-span, terwyl spelers soos Alyssa Healy, Meg Lanning, Rachel Haynes en Jess Jonassen hoog op die onderskeie kolf- en boulwerkranglys is.

Maar in Nonkululeko Mlaba (no. 2 op die boulerranglys) en Ismail (no. 9 op die boulerranglys) kan die Proteas gedugte teenstanders op hul tuisveld wees.

“Dit is fantasties om ʼn speler van haar [Mlaba] kaliber in die span te hê. Haar selfvertroue kry ʼn hupstoot met elke liewe wedstryd wat sy speel en sy gaan as ons hoofdraaier vir ons ʼn sleutelrol in die toernooi vertolk.”

Daar sal altyd druk op ʼn Suid-Afrikaanse krieketspan wees wanneer hulle aan ʼn internasionale uitkloptoernooi deelneem en Luus skram nie daarvan weg nie.

“Ons het al baie met mekaar gepraat oor hoe ons hierdie Wêreldbekerveldtog wil benader. Ons moet oukei met die druk wees en dit tot ons voordeel gebruik.”

Naweekbepalings:

Suid-Afrika teen Sri Lanka (Vrydag om 17:00)

Wes-Indiese Eilande teen Engeland (Saterdag om 13:00) en Australië teen Nieu-Seeland (Saterdag om 17:00)

Indië teen Pakistan (Sondag om 13:00) en Bangladesj teen Sri Lanka (Sondag om 17:00)

Protea-groep vir T20-Wêreldbeker: Suné Luus (kaptein), Chloe Tryon (onderkaptein), Anneke Bosch, Tazmin Brits, Nadine de Klerk, Annerie Dercksen, Lara Goodall, Shabnim Ismail, Sinalo Jafta, Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka, Masabata Klaas, Nonkululeko Mlaba, Delmi Tucker en Laura Wolvaardt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.