Maak gerus ’n video van dié Rassie-beurt

Rassie van der Dussen het gister ’n merkwaardige beurt teen Pakistan gespeel. Foto: Randy Brooks/AFP.

Magtie, die kolwers kan ook ’n wedstryd vir die Proteas wen!

Rassie van der Dussen het gister in Abu Dhabi met ’n merkwaardige beurt vorendag gekom om te sorg dat die Suid-Afrikaners vir Pakistan met ses paaltjies in hul tweede opwarmingswedstryd getroef het.

Die 32-jarige kolwer het ’n onoorwonne 101 van 51 aflewerings gemoker en hy het saam met David Miller (8 van 3 balle) toegesien dat die Suid-Afrikaners die verlangde 19 lopies vanaf die laaste boulbeurt geslaan het om die kragmeting te beklink.

Van der Dussen het heel gepas die wenlopies met ’n grenshou na die bykantgrens getimmer en hy het sommer terselfdertyd sy honderdtal gevier.

Die Proteas was vroeër in die moeilikheid met hul telling op 15/2 nadat Quinton de Kock (6) en Reeza Hendricks (7) vroeg uitgehaal is.

Maar Van der Dussen en Temba Bavuma (46 van 42 aflewerings) het daarna met ’n vennootskap van 107 die Protea-skip weer op die regte koers gekry.

Die Protea-kaptein is egter steeds nie heeltemal op dreef nie en hy het weer eens ander kolwers onder druk geplaas om lopies te jaag.

As ’n mens die afgelope twee opwarmingswedstryde ook in berekening bring, het die Proteas nou nege agtereenvolgende wedstryde gewen.

Hulle is steeds nie die gunstelingspan om met die louere weg te stap nie, maar hulle kan beslis ’n paar mense verras.

Die Suid-Afrikaners se Wêreldbeker-veldtog begin Saterdag amptelik teen Australië.

Uitslae van gister se ander wedstryde:

  • Afghanistan (189/5) het die Wes-Indiese Eilande (133/5) met 56 lopies in ’n opwarmingswedstryd geklop.
  • Engeland (163/6) het Nieu-Seeland (150) met 13 lopies in ’n voorbereidingswedstryd gewen.
  • Indië (153/2) het Australië (152/5) met agt paaltjies in ’n opwarmingswedstryd geklop.
  • Namibië (166/4) het Nederland (164/4) met ses paaltjies in hul Groep A-kragmeting getroef.
  • Sri Lanka (171/7) het Ierland (101) met 70 lopies in hul Groep A-wedstryd ore aangesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kirst

Ek kon net die laaste 15 balle kyk en was aangenaam verras. Goed gedoen Rassie en kie! My 6 jarige seun het langs my gesit en kyk. Hy speel vandag sy eerste mini-krieket wedstryd en dis presies die soort inspirasie wat so ‘n tjokkertjie nodig het om self uit te styg.

absoluut

bavuma is nie geskik vir die T20 wedloop nie, beslis nie, hy speel 5 dag toets krieket kolftempo met die T20

Piet

Wat n selfsugtige mislukking van n beurt deur die kaptein. Dit bly n opwarm wedstryd, en hy neem al die tyd en balle op. Daar is ander kolwers wat ook opwarm kort. Skandelik!

Dirk Mostert

Temba se ge poer-poer voor die paaltjies gaan ons wedstryde kos!