Maharaj draai die krane oop

Keshav Maharaj het twee vinnige paaltjies geneem. Foto: Asif Hassan/AFP.

Op die vooraand van die tweede toets teen Pakistan in Rawalpindi het die Protea-breier Mark Boucher gesê dat dit waarskynlik Quinton de Kock se laaste wedstryd aan die stuur van die toetsspan sal wees.

Dit lyk soms asof die talentvolle paaltjiewagter nie die verantwoordelikheid baie geniet nie, terwyl sy kolfwerk ook daaronder ly.

Maar vanoggend het De Kock egter met ’n briljante boulverandering vorendag gekom toe hy Keshav Maharaj sommer vroeg in Pakistan se beurt losgelaat het.

Die linkshandige draaier – wat al vantevore op die stofblaaie van Asië gesukkel het – het dadelik sy stempel op die wedstryd afgedruk deur van Imran Butt (15) en Azhar Ali (0) ontslae te raak.

Hy is uitstekend deur Anrich Nortjé bygestaan en in ’n stadium het die Protea-boulers vir vyf agtereenvolgende boulbeurte nie ’n enkele lopie afgestaan nie terwyl twee paaltjies gekantel het.

Dan het Aiden Markram ’n uitstekende vangskoot op slagyster benut om vir Abid Ali terug na die kleedkamers te stuur.

Binne ’n oogwink was Pakistan 22/3.

Die Proteas sal egter ’n belangrike les in die eerste toets geleer het: moet nooit die voet van die versnelpedaal haal nie.

Pakistan het in Karatsji op 27/4 gewankel, maar steeds amper 400 lopies aangeteken.

Proteas: Aiden Markram, Dean Elgar, Faf du Plessis, Rassie van der Dussen, Temba Bavuma, Quinton de Kock, Wiaan Mulder, George Linde, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada en Anrich Nortjé.

Pakistan: Imran Butt, Abid Ali, Azhar Ali, Babar Azam, Fawad Alam, Mohammad Rizwan, Faheem Ashraf, Yasir Shah, Hasan Ali, Nauman Ali en Shaheen Afridi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.