Maharaj, Mulder plaas Tiere op agtervoet

Wiaan Mulder vier een van sy paaltjies. Foto: Marco Longari/AFP.

Die Proteas geniet ’n voorsprong van 314 lopies ná die tweede dag se spel van die tweede toets teen Bangladesj op St. George-park.

Nadat Keshav Maharaj in die eerste toets die Tiere dronk gedraai het, het hy die besoekers vandag met sy kolfwerk frustreer.

Die draaier het 84 vinnige lopies vanaf slegs 95 aflewerings gemoker om saam met Wiaan Mulder (33) en Simon Harmer (29) toe te sien dat die Suid-Afrikaners met ’n eerstebeurttelling van 453 kan spog.

Maharaj se blitsbeurt het nege viere en drie sesse ingesluit en hy het ongetwyfeld die wind uit die besoekers se seile gehaal.

Daarna het Mulder – wat deesdae met stillerige vertonings in nasionale kleure tevrede moet wees – amok onder die kolwers gemaak en drie vinnige paaltjies geneem.

Al drie sy paaltjies was been voor paaltjie-beslissings.

Duanne Olivier het vroeër van Mahmudul Hassan Joy en Litton Das ontslae geraak. Teen uitskeityd het Bangladesj met sy telling op 139/5 gesteier.

Die Proteas het die eerste toets met 220 lopies gewen nadat die besoekers net 53 lopies in hul laaste beurt kon bymekaarskraap.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 453/10 in 136,2 boulbeurte: Keshav Mahara 84, Dean Elgar en Taijul Islam 6/135.

Bangladesj 139/5 in 41 boulbeurte: Tamim Iqbal 47, Wiaan Mulder 3/15 en Duanne Olivier 2/17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.