Maharaj wil Proteas lei

Keshav Maharaj. (Foto: Facebook CSA).

Reg, Quinton de Kock is as die Proteas se kaptein in witbalkrieket aangewys en hoewel Faf du Plessis se opvolger in toetskrieket nog nie gekies is nie, dink mens onmiddellik aan spelers soos Aiden Markram, Temba Bavuma, Dean Elgar of selfs Rassie van der Dussen om die leisels oor te neem.

Maar ’n buiteperd het homself so pas bereidwillig verklaar om die Suid-Afrikaners in al drie formate van die spel aan te voer.

En om ’n lang storie kort te maak: Keshav Maharaj wíl die Proteas lei.

“Ek wil bitter graag die volgende Protea-kaptein wees; dit is my droom. Toegegee, nie baie mense is daarvan bewus nie, maar diegene wat my goed ken, weet dat ek die Proteas in al drie formate wil aanvoer. Ek wil die Wêreldbeker as die kaptein van die span wen,” het Maharaj gesê.

Die 30-jarige draaier was die kaptein van die Dolphins in die plaaslike eendagreeks en toe die toernooi weens die Covid-19-pandemie afgelas is, is die KwaZulu-Natallers as die wenners aangewys.

“Om vir die Proteas te speel was my droom as kind, maar om die kaptein van die span te wees wat die Wêreldbeker-toernooi wen, sal die kroon span.”

Hy het reeds 30 toetse vir Suid-Afrika gespeel waarin hy 110 paaltjies geneem het. Hy het ook met die kolf in die Proteas se nagmerrietoer na Indië uitgeblink.

Rassie van der Dussen. (AP Photo/Halden Krog)

Hy het egter nog net sewe eendagwedstryde gespeel, terwyl hy nog glad nie internasionale T20-krieket gesmaak het nie.

Aiden Markram is die gesoute krieketadministrateur en voormalige Protea-kaptein, dr. Ali Bacher, se gunstelingkeuse om die volgende toetskaptein te word.

Dan het Du Plessis al self vantevore gesê dat Van der Dussen oor natuurlike leierseienskappe beskik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.