Maklike losmaker was wel die moeite werd

Argieffoto

Argieffoto

Die Proteas se losmaker die naweek teen ʼn baie jong en onervare Australiese elftal het wél sy doel gedien, maar weens die swakkerige teenstand moet die heelwat goeie individuele vertonings met ʼn knippie sout geneem word.

Dit was niks meer as ʼn oefenwedstryd teen ʼn span met lede van wie die ouderdomme tussen  17 en 22 gewissel het nie.

Die Proteas het eerste gekolf en al die kolwers, met die uitsondering van Stephen Cook (5), Faf du Plessis (8) en Temba Bavuma (11),  het hulle tyd voor die paaltjies goed benut. Rilee Rossouw kon ook net 8 lopies aanteken, maar het in die tweede beurt  ʼn vinnige onoorwonne 77 geslaan.

Quinton de Kock het op nommer agt gaan kolf en 122 in net 103 balle geslaan voor hy met ʼn virusinfeksie aan dié tweedaagse wedstryd onttrek het.

Suid-Afrika moes ʼn Australiese plaasvervanger vir die tuisspan se kolfbeurt gebruik, want die span se nommer-twee-paaltjiewagter, Dane Vilas, speel nog in die Sunfoilreeks in Suid-Afrika.

Die boulers het darem 30 boulbeurte in die wedstryd geboul en ook ʼn verdere 25 beurte ná die wedstryd om deeglike oefening onder die ligte in te kry.

Die vyf naatboulers het elk twee paaltjies geneem en die Aussie-elftal vir 103 lopies uitgehaal, 321 lopies agter die Proteas se eerstebeurt-telling.

In die tweede beurt het die Proteas 181/5 aangeteken. Cook (12) het weer nie tyd in die middel gekry nie en Bavuma (21) en Du Plessis (20) het darem redelike kolfkans gehad.

JP Duminy het ʼn onoorwonne 32 by sy 97 in die eerste beurt gevoeg. Dean Elgar se 43 in die eerste beurt was vir hom ook van waarde.

♦  Wat die pienk bal betref, was die spelers se kommentaar redelik neutraal. De Kock het gesê ’n mens moet aanvanklik daaraan gewoond raak, maar bygevoeg dat ʼn kolwer ook aan ʼn rooi of wit bal se swaai en wip gewoond moet raak – ʼn bal is ʼn bal.

Een van die vrae rondom die pienk bal is egter nie bevredigend beantwoord nie. Hoe sal die bal ná 60 boulbeurte lyk?

Kyle Abbot het gesê dat die bal ná slegs 15 boulbeurte al begin afskilfer het. Hy het ook gesê die pienk bal swaai nie veel nie. Die bal het wel van die blad af rondbeweeg toe dit aand word en die ligte aangeskakel is, maar dit kon ook die gevolg van die baie gras op die kolfblad gewees het.

♦  Die Proteas speel nog ʼn tweedaagse oefenwedstryd, op 27 en 28 Oktober en ook in Adelaide, teen ʼn Suid-Australiese elftal – dié keer met die gewone rooi bal ter voorbereiding vir die belangrike eerste toets wat op 3 November in Perth begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.