Malan lei Engeland se terugvegpoging

Dawid Malan en Joe Root het die kastaiings uit die vuur vir Engeland gekrap. Foto: AFP.

Dawid Malan, oudleerling van Paarl Boys’ High, het saam met Joe Root Engeland se terugvegpoging op die derde dag van die eerste As-toets in Brisbane gelei.

Engeland, wat in sy eerste beurt vir 147 uitgeknikker is, was weer eens met die rug teen die muur toe Mitchell Starc vir Haseeb Hameed (27) uitgehaal het.

Maar ’n onoorwonne vennootskap van 159 lopies om die derde paaltjie tussen Malan (80) en Root (86) het die kastaiings uit die vuur vir die Engelse gekrap.

Al twee kolwers het tien grenshoue in hul beurte geslaan en hulle was veral aggressief teen Starc (1/60) se boulwerk.

Die 34-jarige Malan geniet dit om teen Australië te speel – hy in die besoekers se vorige toer na Australië sy hoogste telling van 140 in Melbourne aangeteken.

Teen uitskeityd het Engeland 220/2 op die telbord gehad; en hulle moet nog 58 lopies aanteken voordat dit weer nodig is vir die tuisspan om te kolf.

Vroeër is Australië vir 425 uitgehaal.

Travis Head (152 van 148 aflewerings) het op David Warner en Marnus Labuschagne se stewige grondslag voortgebou en hy het ’n goeie bondgenoot in Starc (35) gekry.

Wanneer ’n stertkantkolwer lopies kry is dit altyd ’n bonus en die twee Aussies het met hul vennootskap van 85 lopies gesorg dat die Engelse boulers se frustrasievlakke die hoogte inskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.