Malan maak T20-ranglysspronge vir Engeland

Dawid Malan. Foto: Twitter.

Dawid Malan ry tans op die kruin van die krieketgolf ná sy blitsige 103* van slegs 51 aflewerings in die laaste wedstryd van Engeland se T20-reeks teen Nieu-Seeland.

Die 32-jarige Middlesex-kolwer se beurt het nege viere en ses sesse ingesluit en is die vinnigste honderdtal vir Engeland in T20-krieket. Boonop is sy vennootskap van 182 lopies saam met Eoin Morgan die hoogste vennootskap om die vierde paaltjie in internasionale T20-krieket.

Sy avontuurlustige beurt het beteken dat hy omtrent ranglysspronge gemaak het en hy is tans die derde voorste kolwer in internasionale T20-krieket.

Malan is in Engeland gebore, maar het matriek aan Paarl Boys’ High in die Paarl behaal. Hy het sy eersterangse debuut vir die Boland in 2005/2006 gemaak. Sy pa, Dawid senior, het ook ’n paar wedstryde vir die Westelike Provinsie gespeel.

Kort daarna het hy egter vir Middlesex begin speel en hy het sy T20-debuut vir Engeland teen die Proteas in Cardiff gemaak.

Malan het terstond 78 lopies van 44 aflewerings teen die Suid-Afrikaners gemoker en is kort daarna vir die Britte se toetsspan gekies.

Hoewel hy ’n honderdtal teen Australië op die WACA-stadion geslaan het, sorg sy toetsloopbaan vir minder indrukwekkende leesstof as sy T20-syfers.

In nege mik-en-moker-wedstryde het hy 458 lopies teen ’n gemiddeld van 57 en ’n treftempo van 156.31 geslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.