Malan wil sy kolfstempel in Engeland afdruk

Suid-Afrika se Pieter Malan in aksie (6 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Halden Krog)

Pieter Malan sal binnekort sy buiging vir Middlesex maak nadat dié Engelse span hom vir die res van die graafskapseisoen nadergetrek het.

Die 32-jarige openingskolwer vervang die Australiër Peter Hanscomb en sal onder meer vir die County- en Royal London Cup-toernooi vir sy nuwe span beskikbaar wees.

“Ek is baie opgewonde om deel van die Middlesex-opset te word. Hulle is ongetwyfeld ’n invloedryke graafskap en hierdie is ’n ongelooflike geleentheid wat ek met albei hande sal wil aangryp,” het Malan gesê.

Middlesex is tans eerste op die County-punteleer (Afdeling II) en volgens die klub se Alan Coleman kan die Suid-Afrikaner se ondervinding ’n lekker hupstoot vir die klub wees.

“Ons is dankbaar om Pieter se diens vir die res van die seisoen te bekom en hy sal waarde tot ons kolfwerk voeg. Hy beskik oor baie ervaring en ons kan nie wag om hom hier te verwelkom nie,” het Coleman gesê.

Malan het in ’n loopbaan van 172 eersterangse wedstryde meer as 12 000 lopies aangeteken, terwyl hy reeds 38 keer ’n honderdtal gevier het.

Sy reusebeurt van 264 teen die Knights is die hoogste telling nóg deur ’n Cape Cobras-speler in die franchise-era en dit het JP Duminy se vorige rekord van 260 lopies verbeter.

Die Kapenaar het al in drie toetse vir die Proteas gespeel toe hy Aiden Markram se skoene moes volstaan. Hy het 156 lopies teen ’n gemiddeld van 26,00 aangeteken.

Teen hierdie tyd moet hy ook al gewoond wees aan Engelse toestande. Hy het verlede jaar vir Warwickshire gespeel waar hy met ’n hoogste telling van 141 lopies spog.

“Middlesex het ’n uitstekende aanloop tot die seisoen en hopelik kan ek ook tot die klub se sukses bydra,” het Malan gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.