Manjifieke Marizanne slaan 150 teen Engelse

Marizanne Kapp het gister ’n barshou teen Engeland gespeel. Foto: Twitter.

Op Marizanne Kapp se krieketgetuigskrif – net soos met die meeste van haar spanmaats – is daar nie veel inligting onder die toetskrieketopskrif beskikbaar nie.

Daar was trouens net die een rooibalkrieketwedstryd in 2014 teen Indië – Kapp het toe 19 lopies in twee beurte aangeteken en nie een paaltjie geneem nie.

Tog het sy gister in Taunton met die behendigheid van ’n toetskrieketveteraan gekolf om die Protea-kastaiings uit die vuur te krap met haar skitterende beurt van 150 lopies.

Die 32-jarige speler het gaan kolf met die Suid-Afrikaanse beurt wat op 45/4 gewankel het. Lizelle Lee was pas uitgehaal, terwyl Laura Wolvaardt ook terug in die kleedkamer was.

Net meer as 200 aflewerings en 26 grenshoue later het Kapp uiteindelik haar paaltjie verloor met die telling op 276/9. As jy ooit gewonder het wat die woord “vegtersbeurt” beteken, dan bied hierdie beurt die perfekte verduideliking.

Selfs die Engelse het waardering vir die Suid-Afrikaner se poging gehad.

“Dit het gelyk asof sy al vir jare toetskrieket speel,” het Kate Cross, Engeland se openingsbouler, gesê.

Eintlik moet ’n mens net na Suid-Afrika se telkaart kyk om Kapp se beurt ten volle te waardeer: Anneke Bosch se 30 lopies was die tweede hoogste telling van die beurt.

Spel word vandag om 12:00 hervat en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 284/10 in 91.4 boulbeurte: Marizanne Kapp 150, Anneke Bosch 30 en Kate Cross 4/63.

  • Spanne:

Suid-Afrika: Laura Wolvaardt, Andrie Steyn, Lara Goodall, Suné Luus, Lizelle Lee, Marizanne Kapp, Anne Bosch, Nadine de Klerk, Sinalo Jafta, Tumi Sekhukhune en Nonkululeko Mlaba.

Engeland: Tammy Beaumont, Emma Lamb, Heather Knight, Natalie Sciver, Sophia Dunkley, Amy Jones, Alice Davidson Richards, Sophie Ecclestone, Kate Cross, Lauren Bell en Isabelle Wong.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Goed gedoen maar weens die ander kolwers se misoes ongelukkig nie ‘n baie goeie eerste beurt telling nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.