Manjifieke Miller!

David Miller se vreugde ken geen perke nadat hy die wedstryd vir sy span gewen het. Foto: Twitter.

In een van die ou Suid-Afrikaanse kriekettydskrifte het ’n jong David Miller (toe 15 jaar oud) gesê dat hy die volgende Donald Bradman wil wees.

Maar op 32-jarige ouderdom het die linkshandige kolwer nog nie eens ’n internasionale rooibalkrieketwedstryd gespeel nie, om nie eens van ’n toetsgemiddeld van 99,94 te praat nie.

Tog het hy gister in die Indiese Premierliga met ’n merkwaardige beurt vorendag gekom – sy drie agtereenvolgende sesse vanaf die laaste boulbeurt het toegesien dat sy Gujarat Titans-span vir die eindstryd van die gewilde mik-en-moker-toernooi gekwalifiseer het.

Die Suid-Afrikaner het uiteindelik 68 onoorwonne lopies vanaf 38 aflewerings gemoker. Sy beurt het drie viere en vyf sesse ingesluit en hy het ongetwyfeld die wind uit die Rajasthan Royals se seile gehaal.

Selfs Bradman – ’n toetskrieketpuris – sou trots op Miller se houespel en drukkoker-hanteervermoë gewees het.

Ná ’n paar maer jare (nogal ook in die kleure van die einste Royals) het die Protea-speler in vanjaar se toernooi vlamgevat. Hy slaan sy 449 lopies teen ’n gemiddeld van 64,14 en ’n treftempo van 141,19.

“Ek weet presies wat my rol in die span is, ek kry gereeld speelkans en ek geniet my spanmaats se ondersteuning,” het Miller in ’n onderhoud met Star Sports gesê.

“Terselfdertyd speel ek nou al vir ’n hele paar jaar en ek verstaan my spel nou baie beter as in die begin. In druksituasies waai die wedstrydplan dikwels by die stadionvenster uit, maar ek doen my bes om die oorspronklike plan te volg.”

Volgens Hardik Pandya (Titans-kaptein) het die span nog altyd geweet dat Miller ’n spesiale speler is.

“Dit is belangrik om ’n speler soos David te ondersteun en vir hom ’n duidelike rol in die span te gee. Selfs al werk dinge nie altyd uit nie, is dit ook oukei – dit is immers net ’n krieketwedstryd. Maar almal het geweet hy kan kolf soos vandag; hy kan beslis wedstryde vir ’n span wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.