Marco Jansen verwoes Faf-hulle

Marco Jansen. Foto: Hansie Linde.

Suid-Afrika se blitsbouler Marco Jansen (3/25) het gewys hoe verwoestend hy kan wees.

Hy het in een boulbeurt van Faf du Plessis (5), Virat Kohli (0) en Anuj Rawat (0) ontslae geraak om die Royal Challengers Bangalore op 8/3 te laat wankel in die Indiese Premierliga. Jansen se span, die Sunrisers Hyderabad, het die wedstryd met nege paaltjies gewen nadat Du Plessis se span uitgeboul is vir net 68 lopies.

Jansen het vir Du Plessis geboul. Sy landgenoot Aiden Markram het vir Kohli en Rawat van sy boulwerk af uitgevang. Jansen is ook as speler van die wedstryd aangewys.

Kohli se teleurstellende vertoning is een van die groot gesprekspunte van die toernooi. Dit was sy tweede agtereenvolgende nulletjie. Hy het nog net 119 lopies aangeteken in sy laaste agt kolfbeurte.

Die Suid-Afrikaner David Miller het 27 lopies van 20 balle af vir die Gujarat Titans aangeteken in hulle oorwinning van agt lopies teen die Kolkata Knight Riders (KKR). Die Gujarat Titans het 165/9 aangeteken in hul 20 boulbeurte. Kaptein Hardik Pandya het 67 lopies van 49 balle af aangeteken.

KKR kon net antwoord met 148/8. Andre Russel het 48 lopies van 25 balle af bygedra.

Vandag kom Quinton de Kock se Lucknow Super Giants te staan teen Dewald Brevis se Mumbai Indians.

Intussen het Krieket Suid-Afrika die wedstryde in ʼn T20-reeks teen Indië bevestig. Pholetsi Moseki, KSA se uitvoerende hoof, het gesê dis ʼn belangrike internasionale seisoen vir die Proteas met die T20-Wêreldbeker later vanjaar in Australië en die Wêreldbeker-toernooi volgende jaar in Indië.

T20-reeks teen Indië:

9 Junie              Delhi
12 Junie            Cuttack
14 Junie            Vizag
17 Junie            Rajkot
19 Junie            Bangalore.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.