Markram gereed vir Indiese avontuur

Aiden Markram lig sy kolf na sy eerste toetshonderdtal (Foto Facebook CSA)

Op 2 Oktober sal die Proteas hul eerste wedstryd in die Wêreldtoets-kampioenskap weg van die huis teen Indië speel.

Maklik gaan dit beslis nie wees nie, want nie net gaan die Protea-kolwers moet bontstaan teen die Indiese draaiers nie, hulle sal ook die tuisspan sonder die dienste van sterspelers soos AB de Villiers en Hashim Amla moet aanvat.

Dié twee hardebaarde het uit internasionale krieket getree en laat reuseleemtes in die Protea-kolflys. De Villiers het ’n gemiddeld van 54.56 lopies in Asië gehandhaaf, terwyl Amla teen ’n gemiddeld van 47.66 op dié vasteland gekolf het.

Om hul vertonings in perspektief te plaas: Onder die huidige Suid-Afrikaanse toetskolwers vaar Temba Bavuma die beste – hy het in sewe beurte 203 lopies geslaan teen ’n gemiddeld van 29.00.

Faf du Plessis kolf teen ’n gemiddeld van 22.38 in Asië en Dean Elgar – die enigste speler met ’n toetshonderdtal in dié draaierparadyse – strompel teen ’n gemiddeld van 24.29 lopies voort.

Tóg is die 24-jarige Aiden Markram optimisties oor die Proteas se kanse in Indië.

Die openingskolwer het pas 161 vir die SA A-span teen hul Indiese eweknie geslaan en boonop was hy nie deel van die Proteas se vorige rampspoedige toer na Indië nie – ’n toer waar R. Ashwin hulle deurmekaar op die stofblaaie gedraai het.

“Ek onthou ek het destyds daardie reeks gevolg en dinge het ongelooflik moeilik gelyk. Hoewel sommige van die spelers (wat al in 2015 deel van die Protea-groep was) waarskynlik nog letsels van dié toer dra, is dit belangrik dat ons aanbeweeg,” het ’n veglustige Markram gesê.

“Dit is nooit maklik om in Asië te speel nie, om nie eens van Indië te praat nie. Daar wag talle uitdagings op ons, maar die ouens is baie positief. Op die ou einde help dit absoluut niks om oor die speeltoestande te kla nie. Ons moet net doen wat van ons verwag word, en dit is om lopies te slaan en paaltjies te neem.”

Buiten De Villiers en Amla se uittrede sit die Proteas ook met ’n splinternuwe (tydelike) breier in Enoch Nkwe nadat Ottis Gibson en sy afrigterspan ná die afloop van die rampspoedige Wêreldbeker-toernooi in die pad gesteek is.

“Daar is baie nuwe gesigte in die groep en opwindende tye wag op die nuwe afrigterspan én spelers. Ons sien regtig uit na die reeks.”

  • Die Proteas gaan drie toetse teen Indië speel. Die T20-reeks tussen die twee lande het gelykop geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico ·

Ek kan nie sien hoe Amla gemis gaan word nie. Sy ster het reeds met SA se vorige besoek aan Indië begin verskiet en kon toe nooit weer ‘n ster word nie. Hy het dus 3 of 4 jaar te laat uitgetree en so sy syfers lelik seer gemaak.

ProotGraat ·

Ek stem saam Nico. Dis hoekom Koning Kallis ALTYD my grootste krieketheld sal bly – hy het geweet wanneer om uit te tree. Min ander topkolwers kan se dat hul ‘n 100-tal in hul HEEL laaste toets gemoker het!

Dubbelloop ·

Nico & Groot praat, julle praat die waarheid. Ons moet so gou as moontlik n afrigtingspan van goeie gehalte kry. Ons het in Markram, Hendriks, de Kock, vd Dussen en baie ander jong talent wat goeie spelers is. Faf en van die ander ouer manne het te groot geraak vir die spel. Ek is baie bly Amla het gegly. Hy was lankal oor die muur

Werner ·

Waar woorde manne. Los die chockers in die verlede. Laat Markham die leisels vat en nuut begin. Terloops ek is ook n Kallis-fan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.