Markram, kolwers moet nou sterk staan

Kagiso Rabada het vir Virat Kohli uitgehaal. Foto: Hansie Linde.

Kagiso Rabada het in sy 50ste toets vir die Proteas soos die vurige snelbouler van ouds gelyk toe hy die Indiese kolwers op Nuweland laat bontstaan het.

Suid-Afrika se hoofaanvalswapen het 4/73 geneem om saam met Marco Jansen (3/55) die besoekers vir 223 uit te knikker nadat Virat Kohli die loot gewen het.

Rabada (17 paaltjies teen 19,29) is tans die voorste bouler in die toetsreeks, gevolg deur die indrukwekkende Jansen (15 paaltjies teen 18,46).

Die linkshandige Jansen is ongetwyfeld ’n blink diamant wat in watte toegedraai moet word. Hy is vinnig, bewerkstellig lekker wip en staan beslis vir geen kolwer terug nie.

Die Protea-veldwerkers het hulself goed van hul taak gekwyt. Foto: Hansie Linde.

Onder die besoekers se kolwers het net Kohli met die nodige geduld en toewyding gekolf. Hy het 79 lopies van 201 aflewerings aangeteken en sy dryfhoue het soos foto’s uit ’n kriekethandleiding gelyk.

Rabada het egter die laaste gelag toe Kyle Verreynne (wat vyf vangskote benut het) die Indiese kaptein agter die paaltjies uitgevang het.

Dean Elgar het sy boulers goed ingespan en hy het nie gewag vir die tweede nuwe bal ná 80 boulbeurte vir dinge om te gebeur nie.

Die hardebaard-kaptein kon egter nie op sy heldedade van die tweede toets voortbou nie en hy is vir drie lopies deur die vurige Jasprit Bumrah uitgehaal.

Aiden Markram. Argieffoto.

Die tafel is egter gedek vir Aiden Markram om te wys wat in hom steek.

Die talentvolle openingskolwer beskik ongetwyfeld oor die nodige talent – kyk byvoorbeeld na die grenshoue wat hy in die tweede beurt in Johannesburg geslaan het – maar hy het nog glad nie in die huidige reeks vlamgevat nie.

Hy het nog net 60 lopies teen ’n gemiddeld van 15 in sy vorige beurte in die reeks aangeteken en ’n goeie kolfvertoning moet om die draai wees.

Indien Markram en die ander Protea-kolwers sterk staan, is ’n onwerwagse (maar baie welkome) reeksoorwinning ’n groot moontlikheid.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Dit is hartseer dat Mtetwa die spelers dwing om iets teen hulle sin te doen.Ek wonder hoekom kniel hulle nie vir plaasmoorde nie.Hy is wat my aanbetref ‘n fossiel wat agter ‘n Shia Nyama toonbank hoort.

Frans ·

Ons openingkolwers sukkel en plaas druk op die res van die span.Daar is ook duidelik politieke inmenging om die BLM af te forseer en dalk is alle spelers nie hiermee gelukkig nie en benadeel dit hul spel.

Casper ·

Slegte nuus vir SA krieket liefhebbers.Ek as pensionaris sit in my “lazyboy” en kyk hoe Indië se boulers die kolfblad beter benut as ons boulers.Rabada hat in hierdie reeks meer foutballe geboul as in sy hele loopbaan,selfs meer as Morné Morkel.Die skrif is aan die muur.Indiê gaan hierdie toets op dag 4 wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.