Markram kry sy kans vir die Proteas se toetsspan

Aiden Markram kry sy kans in die toetsspan (Twitter @AidzMarkram)

Die 22-jarige Aiden Markram is een van die twee spelers sonder toetservaring wat vir die Proteas se toetsgroep van 13 gekies is vir die eerste van twee toetse teen Bangladesj wat Donderdag in Potchefstroom begin.

Soos Markram was die ander “nuweling” in die toetsgroep, Andile Phehlukwayo, ook deel van die Proteas se toetsgroep teen Engeland. Nie een van hulle het egter speelkans gekry nie.

Markram, ʼn aanvangskolwer wat die Titans hierdie week die eerste keer aangevoer het, is verseker van sy plek met geen ander aanvangskolwer benewens Dean Elgar in die groep nie.

Heino Kuhn wat in Engeland as aanvangkolwer gesukkel het, is tans beseer, en Stephen Cook is nie in die groep nie.

Die jong Markram, wat al die SA A-span aangevoer het, het in sy buiging as kaptein vir die Titans dié week met die intrapslag ʼn honderdtal geslaan en dit in die tweede beurt met 87 lopies opgevolg.

Sy insluiting in die Proteaspan is geen verrassing nie.

Hy is die eerste kaptein van ʼn nasionale Suid-Afrikaanse span wat ʼn Wêreldbeker omhoog kon hou. Dit was in 2014 toe die SA o.19’s die toernooi gewen het.

Ná 50 kolfbeurte is Markram se gemiddeld in meerdaagse wedstryde 42 lopies per beurt en sy meer as 2 100 lopies sluit tien vyftigtalle en vyf honderdtalle in.

♦  Wayne Parnell is as bykomende veelsydige speler in die groep ingesluit. Hy moet nog ʼn fiksheidstoets ondergaan.

Die 19-jarige Wiaan Mulder is ook by die oefengroep betrek in geval Parnell nie kan speel nie. Hy sal na die Lions teruggestuur word indien sy dienste nie benodig word nie.

Parnell, wat nog nooit werklik oortuig het nie, is ingesluit omdat Dale Steyn, Vernon Philander en Chris Morris weens beserings nie beskikbaar is nie.

Proteas:
Faf du Plessis (kaptein), Hashim Amla, Temba Bavuma, Theunis de Bruyn, Quinton de Kock, Dean Elgar, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Morné Morkel, Duanne Olivier, Wayne Parnell, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.