Markram se kolf doen die praatwerk

Aiden Markram in aksie vir Hampshire. Foto: Cricinfo.

Te midde van Kagiso Rabada, Dale Steyn, Lungi Ngidi en Anrich Nortje se beserings, is daar darem ’n brokkie goeie Protea‑nuus op die vooraand van die Krieketwêreldbeker in Engeland.

Aiden Markram is besig om stewig vir Hampshire in die Britte se eendagbeker te vertoon. Die Pretoria-boorling het pas ’n praghonderdtal vir sy graafskap teen Sussex geslaan.

Die 24-jarige kolwer het 130 lopies van slegs 87 aflewerings gemoker. In sy laaste sewe eendagbeurte het hy twee keer 88 lopies aangeteken en hy is besig om sy kleim vir ’n plek in die Proteas se beginspan behoorlik af te steek.

Hoewel hy nog nie in internasionale eendagkrieket die wêreld aan die brand gespeel het nie, doen die tyd vooraf in Engeland hom geen skade nie.

Intussen sal Rabada nie verder in vanjaar se IPL-reeks in aksie wees nie. Die SA sneltrein is die voorste paaltjievraat in vanjaar se reeks met sy 23 paaltjies vir die Delhi Capitals.

Rabada het egter las van ’n rugbesering en is as voorsorgmaatreël deur Krieket Suid-Afrika uit die reeks onttrek.

’n Fikse Rabada is ’n moet indien die Proteas kompeterende krieket by die komende internasionale skouspel wil speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.