Markram se Wêreldbeker-liggie bly skyn

Aiden Markram het 67* geslaan om sy Wêreldbeker-droom lewend te hou. Foto: Cricinfo

Toe die spreiligte gisteraand op Nuweland nie wou saamspeel nie, het almal waarskynlik onder kerslig kwaai na ha hul selfone gesoek om hul beurtkrag-toepassing van nader te bestudeer. Maar ná tegnici vir 90 minute gespook het om die ligte weer te herstel, was die nasionale energievoorsiener dié keer skotvry, maar die wedstrydskeidsregters het steeds genoeg gehad.

Die wedstryd is gestop met die Proteas op 135/2 – 41 lopies voor volgens die Duckworth/Lewis-skaal.

Die uitslag beteken dat Faf du Plessis se troepe die reeks 5-0 beklink het. En hoewel hulle die toetsreeks op ’n uiters teleurstellende wyse verloor het, vergoed dié skoonskiptelling in ’n groot mate daarvoor. Dit is immers Wêreldbeker-jaar.

Goeie nuus is dat ander kolwers – buiten Du Plessis (24) en Quinton de Kock (6) – hul hande in die Proteas se kolfbeurt opgesteek het.

Aiden Markram het ’n grenshoubelaaide beurt van 67* geslaan en in die proses glad nie skade aan sy Wêreldbeker-drome gedoen nie.

Vóór hy sy terugkeer tot die Protea-groep vir die laaste twee eendagkragmetings gemaak het, het hy tellings van 169, 143 en 85 vir die Titans in die plaaslike reeks geslaan.

Hy is goed deur Rassie van der Dussen (28*) bygestaan.

JP Duminy – wat ná die Wêreldbeker gaan uittree – het egter nie kolfkans gekry nie.

Vroeër het Imran Tahir (2/33) weer eens die Protea-boulaanval gelei, terwyl Anrich Nortjé (2/35) ook goed vertoon het.

Kagiso Rabada het in sy laaste boulbeurt twee paaltjies geneem om met boulsyfers van 3/50 op te eindig.

De Kock (353) en Du Plessis (272) is verreweg die twee voorste lopiemakers in die reeks, terwyl Imran Tahir (9), Lungi Ngidi (8), Anrich Nortje (8) en Kagiso Rabada (8) die meeste paaltjies laat kantel het.

Die T20-wedstyde begin op 19 Maart in Kaapstad.

Sri Lanka: 225/10 (Kusal Mendis 56, Kagiso Rabada 3/50; Imran Tahir 2/33)

Suid-Afrika: 135/2 (Aiden Markram 67*, Rassie van der Dussen 28*)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George in Bloem. ·

Hulle sal soos gewoonlik weer choke in die wereldbeker. Hou maar dop. Die tekens van hulle sielkundige swakheid was teenwoordig in die 5 dag reeks. En nou lyk hulle weer goed in die eendagreeks. Hulle het nog sover in die verlede kort voor ELKE Wereldbeker goeie vertonings gelewer net om skouspelagtig hulle alies te sien in die toernooi. Ek hoop regtig ek is verkeerd maar ongelukkig se hulle rekord in die Wereldbeker nie so nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.