Markram steek WB-kleim af

Aiden Markram was ook een van die Proteas se beste spelers by die vorige T20-Wêreldbeker. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Die Proteas speel oor net meer as twee maande hul eerste wedstryd van die T20-Wêreldbeker en soos dinge nou staan, doen Aiden Markram beslis genoeg om sy vliegtuigkaartjie na Australië te bespreek.

Die 27-jarige kolwer is eintlik ’n enigma. Hy beskik ongetwyfeld oor bakkievragte talent, maar wanneer sy selfvertroue ’n knou kry lyk dit soms of hy sal sukkel om ’n lopie by ’n Shoprite-uitverkoping te koop.

Hy is tans derde op die Internasionale Krieketraad se punteleer vir T20-kolwers, terwyl hy ook met sy boulwerk in die sport se kortste formaat beïndruk.

In gister se T20-wedstryd teen Ierland het hy weer eens gewys waartoe hy in staat is toe hy 56 lopies vanaf slegs 27 aflewerings gemoker het.

Sy flinke vennootskap van 112 lopies om die derde paaltjie saam met ’n briljante Reeza Hendricks (74 van 53 balle) het toegesien dat die Proteas 211/5 in hul toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

Markram het daarna ook met ’n puik vangskoot van die gevaarlike George Dockrell ontslae geraak.

Dockrell (43 van 28 balle) en Lorcan Tucker (78 van 38 balle) het gedreig om die Suid-Afrikaners se wentrein te ontspoor, maar die Proteas het steeds genoeg gedoen om die kragmeting met 21 lopies te wen.

Die volgende wedstryd teen die Iere word môre ook in Bristol beslis.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 211/5 in 20 boulbeurte: Reeza Hendricks 74, Aiden Markram 56 en Gareth Delany 2/31.

Ierland 190/9 in 20 boulbeurte: Lorcan Tucker 78, Keshav Maharaj 2/29 en Wayne Parnell 2/36.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.