Markram vat vlam in IPL

Aiden Markram op die voorvoet. Foto: Randy Brooks/AFP.

Nadat hy hom boeglam gesukkel het om toetslopies vir die Proteas aan te teken, is Aiden Markram aan die brand in die Indiese Premierliga.

Die 27-jarige kolwer slaan sy lopies teen ’n gemiddeld van 190 (die naasbeste kolfgemiddeld in die toernooi) en ’n treftempo van meer as 150.

Voeg daarby ’n boulgemiddeld van 17 en ’n paar vangskote; en die Sunrisers Hyderabad moet baie tevrede met hul Suid-Afrikaanse huursoldaat wees.

Die talentvolle Protea was op sy aanvallende beste teen die Kolkata Knight Riders en hy het 68 onoorwonne lopies van slegs 36 aflewerings gemoker. Sy beurt het vier groot sesse ingesluit.

Ná beurte van 0, 4, 13, 7, 31, 8, 16, 15, 2, 42 en 14 in sy laaste paar toetse, lyk dit of die lopierivier darem weer aan’t vloei is. Boonop kan hy ook net baat by ’n Sunrisers-afrigterspan wat Tom Moody en Brian Lara insluit.

“Ek weet wat my rol in die span is – om ’n amperse ankerbeurt te speel terwyl die ander aanvallende kolwers om my kolf. As speler kry ’n mens ook baie duidelikheid van die spanbestuur se kant af,” het Markram in een van sy onderhoude gesê.

Dit was eintlik nog altyd verspot maklik om van Aiden Markram die kolwer te hou. Hy is elegant op die voorvoet, sterk op die agtervoet en laat kriekethoue net pleinweg goed lyk.

As ’n gesoute afrigter ooit na ’n foto soek om sy kriekethandleiding te bemark, sal ’n kiekie van die 27-jarige kolwer se dryfhoue uitstekend werk.

Voeg daarby tellings van 97, 143 en 125 in sy eerste drie toetse, gevolg deur ’n manjifieke 152 teen Australië ’n paar beurte later, en ’n mens kan verstaan waarom puriste opgewonde naderskuif wanneer Markram uitstap om te kolf.

Hopelik beteken sy IPL-herlewing dat die maer jare iets van die verlede is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Presteer net wanneer hy vir sy eie sak speel.

Frank

Ai tog, kyk nou nou na daardie wereldbeker stryd in 1992 tussen SA en Aus. Hudson, Wessels, Kirsten, Macmillan, Kuiper, Richardson, Donald ens ens.
Vir hulle kon jy maar sê MENEER.

Chris dupreez

Hy is seker een van die mees tegnies korrekte spelers wat nie lopies kry nie.