Markram vier terugkeer met honderdtal

Aiden Markram het ’n grenshou gemoker om sy honderdtal te bereik. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Aiden Markram het in die halfeindstryd van die SA20-toernooi ʼn emosiebelaaide honderdtal teen die Joburg Super Kings op SuperSportpark gemoker.

Gister het hy op die einste veld sy terugkeer tot Suid-Afrika se toetskrieketspan met net so ʼn goeie honderdtal gevier.

Die 28-jarige speler het 115 lopies teen die Wes-Indiese Eilande gemoker en hy het ʼn openingsvennootskap van 141 lopies met Dean Elgar gedeel.

“Ek het ʼn sug van verligting geslaak nadat ek die mylpaal bereik het,” het die openingskolwer gesê.

In sy laaste 15 kolfbeurte kon hy immers nie een vyftigtal aanteken nie en hy is nie vir die Proteas se toer na Australië oorweeg nie.

“Só ʼn beurt gee ʼn mens ook vertroue in jou vermoë; jy kan nog in hierdie formaat van die spel ʼn verskil maak. Ek is mal oor rooibalkrieket en ek is baie dankbaar dat die kaptein en afrigter in my geglo het.”

Dinge was egter minder rooskleurig vir Temba Bavuma in sy eerste kolfbeurt as die Proteas se nuwe toetskaptein.

Hy is met die tweede aflewering wat hy trotseer het terug na die kleedkamer toe Alzarri Joseph hom been voor paaltjie betrap het.

Oudergewoonte sal die kolfineenstorting weer eens rede tot kommer wees: Suid-Afrika was op koers na ʼn groot eerstebeurttelling met Markram en Elgar voor die paaltjies, maar die res van die kolwers het gesukkel om vlam te vat.

Die feit dat die Protea-telkaart binne ʼn oogwink van 221/1 na 290/7 verander het, sal enige afrigterspan laat frons.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 314/8 in 82 boulbeurte: Aiden Markram 115, Dean Elgar 71 en Alzarri Joseph 3/60.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Gee hom dieselfde kans as Elgar, Bavuma was ons TOP toets batsman die afgelope twee jaar. Gee hom ook 16 toetste van kapteinskap(soos Elgar) Elgar se avg as skip was 15.76.

George ·

Sit hom teen Aus, Eng, Ind en hy vou weer. Die is die swakste Windies span in die afgelope 30jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.