Markram wou meer lopies geslaan het

Aiden Markram het 96 flinke lopies teen die Wes-Indiese Eilande op die Wanderers geslaan. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die Proteas het 311/7 op die telbord ná die eerste dag se spel op die Wanderers, maar oudergewoonte het die kolwers weer eens hul voet van die versnelpedaal gehaal.

Die tuisspan was in ʼn uitstekende posisie met die telling op 192/1 in die 45ste boulbeurt. Hulle het teen ʼn flinke tempo gekolf en Aiden Markram was op koers om sy tweede honderdtal op ʼn streep teen die besoekende Wes-Indiese Eilande te slaan.

Hy het egter met sy telling op 96 probeer om een van Gudakesh Motie se bybreek-aflewerings bo-oor die paaltjiewagter se kop te speel en hy is deur Jermaine Blackwood uitgevang.

Daarna het Toni de Zorzi (85) en Temba Bavuma (28) voortgekolf voordat Jason Holder die Protea-toetskaptein been voor paaltjie betrap het.

Motie het later vir De Zorzi skoongeboul, waarna Ryan Rickelton (22) en Wiaan Mulder (12) ook gekom en gegaan het.

ʼn Teleurgestelde Markram het later gesê dat hy veel beter moes gedoen het.

“Dit was nie net die vier lopies wat ek benodig het om ʼn honderdtal aan te teken nie. Op hierdie kolfblad moes ek ʼn gróót beurt gespeel het – een van 160 of 170 lopies,” het die openingskolwer gesê.

Tog het Markram ʼn baie goeie week agter die blad. Hy is Maandag as Suid-Afrika se nuwe T20-kaptein aangewys, terwyl hy gister ook op sy beste was – 17 praggrenshoue getuig van sy wilgerlatswaaivermoë.

Hy het ʼn goeie vennootskap van 116 lopies om die tweede paaltjie met De Zorzi geniet en hy is beïndruk met die volwassenheid waarmee die jong kolwer gekolf het.

“Tony het ʼn goeie kop op sy skouers en jy het ʼn kolwer soos hy in die belangrike no. 3-posisie nodig; iemand wat hom op sy werk toespits.”

Op sy beurt het De Zorzi gesê dat dit maklik is om saam met Markram te kolf.

“Ons kon egter al twee meer lopies aangeteken het,” was die 25-jarige kolwer se raakvatopsomming.

Spel word vandag om 10:00 hervat.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 311/7 in 89,2 boulbeurte: Aiden Markram 96, Tony de Zorzi 85 en Gudakesh Motie 3/75.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Bly die swakste WI span in 30jaar. Kan nie perform teen toplande nie.

Frank ·

Nog steeds Markram se probleem. Hy het die temperament, tegniek, alles om ‘n GROOT wereldklas kolwer en kaptein te word.
Maar dikwels sukkel hy met konsentrasie en dan kry hy ‘n brein floute: bv slaan 40 (of 96 soos gister) pragtige, foutlose lopies en dan probeer hy in ‘n VYF DAG wedstryd, ‘n T20 hou soos gister speel… Dis soos om uitgehardloop te word in ‘n 5 dag wedstryd.
Om 96 te kry sê alreeds sy konsentrasie het baie verbeter. So, nou ja, as hy in die toekoms gemiddeld 96 kan kry voor hy die breinfloutes ervaar, is dit seker maar reg so!!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.