Marnus anker Aussie-beurt terwyl Matt baljaar

Australië se Marnus Labuschagne het 90 lopies teen Nieu-Seeland geslaan. (Foto: Sanka Vidanagama/AFP)

Nieu-Seeland geniet ʼn voorsprong van 40 lopies ná die tweede dag se spel van die tweede toets teen Australië in Christchurch.

Tom Latham en Kane Williamson se vennootskap van 105 lopies om die tweede paaltjie het die tuisspan se skip vinnig weer op koers gekry nadat Mitchell Starc sommer vroeg van Will Young ontslae geraak het.

Vroeër het Marnus Labuschagne sy hoogste telling in amper tien toetse geslaan toe hy 90 lopies in Australië se eerste kolfbeurt aangeteken het.

Die 29-jarige kolwer, wat in Klerksdorp gebore is, het 12 grenshoue in sy beurt gemoker en hy was die enigste Aussie-kolwer wat met ʼn vyftigtal kon spog.

Starc se 28 lopies was die naasbeste kolfpoging vir die besoekers.

Die Swartpette se Matt Henry was sy span se beste bouler en hy het sewe paaltjies laat spat. Hy het onder meer vir Usman Khawaja, Cameron Green, Travis Head en Mitchell Marsh terug na die kleedkamer gestuur.

Volgens Williamson sal die Nieu-Seelanders op hul tweedebeurtgrondslag wil voortbou.

“Die baanblad beskik oor goeie vaart en wip en Australië se boulers is altyd ʼn gevaar. Goeie vennootskappe is ongetwyfeld die sleutel tot sukses en ons het darem reeds ʼn klein voorsprong,” het die ervare Kiwi-kolwer gesê.

  • Opsomming van die telkaart:

Nieu-Seeland 162/10 in 45,2 boulbeurte: Tom Latham 38, Josh Hazlewood 5/31 en Mitchell Starc 3/59.

Australië 256/10 in 68 boulbeurte: Marnus Labuschagne 90, Mitchell Starc 28 en Matt Henry 7/67.

Nieu-Seeland 134/2 in 50 boulbeurte: Tom Latham 65*, Kane Williamson 51 en Pat Cummins 1/21.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.