Marnus nou die beste ter wêreld

Marnus Labuschagne. Foto: William West/AFP.

Ná spogbeurte van 103 en 51 teen Engeland in die tweede toets van die Reeks om die As in Adelaide, is Marnus Labuschagne nou die voorste toetskolwer in wêreldkrieket.

Die 27-jarige speler beleef ’n droomtoetslopie sedert hy wêreldkrieket se eerste harsingskudding-plaasvervanger geword het toe hy Steve Smith se skoene in 2019 op Lord’s moes volstaan.

Australië se gunsteling-Klerksdorper het in 20 toetse reeds 2 113 lopies teen ’n spoggemiddeld van 62,14 geslaan. Boonop het dit hom ook net 34 beurte geneem om 2 000 toetslopies aan te teken – die vyfde vinnigste in die geskiedenis van die spel.

Hy het verlede jaar ook die legendariese sir Donald Bradman se rekord verbeter vir die meeste lopies in drie beurte op die Gabba-krieketveld in Brisbane.

Labuschagne het in sy drie Brisbane-beurte reeds 374 lopies gemoker, terwyl Bradman 326 lopies geslaan het.

“Marnus se voetwerk as kolwer is baie presies en dit het baie met sy positiewe ingesteldheid te doene – wanneer jy nie positief is nie, gaan jou voete beslis nie saamspeel nie. Dit is net ’n duidelike bewys dat hy geestelik baie sterk is; hy is ’n ongelooflike speler,” het Sachin Tendulkar vroeër gesê.

Labuschagne is in Klerksdorp gebore, maar hy het op tienjarige ouderdom saam met sy ouers na Australië verhuis.

Onder Suid-Afrikaanse spelers is Quinton de Kock (11de), Dean Elgar (16de) en Aiden Markram (19) die voorste kolwers, terwyl Kagiso Rabada (sesde), Keshav Maharaj (26ste) en Anrich Nortjé (32ste) die beste boulers is.

Voorste toetskolwers:

  1. Marnus Labuschagne 912 punte
  2. Joe Root 897 punte
  3. Steve Smith 884 punte
  4. Kane Williamson 879 punte
  5. Rohit Sharma 797 punte
  6. David Warner 775 punte
  7. Virat Kohli 756 punte
  8. Dimuth Karunaratne 754 punte
  9. Babar Azam 750 punte
  10. Travis Head 728 punte

Voorste toetsboulers:

  1. Pat Cummins 904 punte
  2. Ravichandran Ashwin 883 punte
  3. Shaheen Afridi 822 punte
  4. Tim Southee 814 punte
  5. Josh Hazlewood 810 punte
  6. Kagiso Rabada 798 punte
  7. Neil Wagner 794 punte
  8. James Anderson 791 punte
  9. Mitchell Starc 768 punte
  10. Kyle Jamieson 764 punte

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.