McCullum en Mott is Engeland-breiers

Brendon McCullum was ook Nieu-Seeland se toetskrieketkaptein. Foto: Marty Melville/AFP.

Reg, Brendon McCullum sal aan die stuur van Engeland se toetskrieketspan wees, terwyl Matthew Mott vir die witbalkrieketspanne se voorbereidingswerk verantwoordelik is.

Die Engelse Krieketraad het vandag Mott se aanstelling bevestig nadat die 48-jarige Aussie sewe jaar lank aan die stuur van sy geboorteland se vrouekrieketspan was.

Die raad se grootkoppe – Rob Key, Andrew Strauss, Tom Harrison en Mo Bobat – het erken dat Mott se aansoek kop en skouers bo die res uitgestaan het.

Onder sy toesig het Australië se vrouekrieketspan onder meer 26 agtereenvolgende eendagwedstryde gewen, terwyl hulle ook die verdedigende Wêreldbeker-kampioen is.

As ’n mens lees wat Key (Engeland se direkteur van krieket) in die media sê, sal daar waarskynlik van Mott verwag word om soortgelyke hoogtes saam met Engeland te bereik.

“Ek is vol vertroue dat ons in Eoin Morgan (eendagkrieket-kaptein) en Mott oor ’n gedugte span beskik wat in die komende jare beslis met ’n paar internasionale bekers huiswaarts kan keer,” het Key gesê.

Dan het McCullum pas sy eerste toetsgroep vir die komende reeks teen Nieu-Seeland bekend gemaak.

Ben Stokes sal die span aanvoer, terwyl James Anderson en Stuart Broad ook weer hul terugkeer maak nadat hulle onlangs oor die hoof gesien is.

Dit was juis sy verstandhouding met Stokes wat ’n deurslaggewende rol in McCullum se suksesvolle aansoek was.

Tog is nie almal ewe opgewonde oor die veglustige Nieu-Seelander se aanstelling nie.

Gary Kirsten. Foto: Ayanda Ndamane African News Agency (ANA).

“Engeland se besluit om McCullum aan te stel maak my maar senuweeagtig,” het Michael Vaughan (oudkaptein) in sy Telegraph-rubriek geskryf.

“Dit is ongelooflik vreemd dat iemand soos Gary Kirsten vir die tweede keer nie die pos gekry het nie. Ek verstaan nie waarom dit weer gebeur het nie.”

Key het juis vantevore gesê dat die voormalige Protea-breier ’n goeie keuse sou gewees het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.