McCullum gooi sy naam in toetshoed

Brendon McCullum was ook Nieu-Seeland se toetskrieketkaptein. Foto: Marty Melville/AFP.

Die aansoekproses om Engeland se volgende toetsafrigter te word het amptelik Vrydag gesluit en volgens oorsese mediaberigte het Brendon McCullum ook sy naam in die hoed gegooi.

Baie krieketliefhebbers sal meen dat die veglustige Nieu-Seelander meer geskik vir witbalkrieketwedstryde is, maar hy het amper 7 000 lopies in 101 toetse vir die Kiwi’s geslaan.

Die 40-jarige McCullum is tans aan die stuur van die Kolkata Knight Riders in die Indiese Premierliga; ’n span wat met internasionale spelers soos Sunil Narine, Pat Cummins en Aaron Finch spog.

Sy aggressiewe benadering beteken dat hy dalk goed met Ben Stokes (Engeland se nuwe kaptein) kan saamwerk.

Benewens die Nieu-Seelander tel Suid-Afrika se Gary Kirsten en Graham Ford ook onder die gunstelingkandidate om die toetsleisels vas te vat.

Ná die Bleekbene se rampspoedige vertoning in die onlangse Reeks om die As teen Australië het Chris Silverwood die trekpas as afrigter gekry, terwyl Rob Key ook onlangs as die nuwe direkteur van krieket aangewys is.

Dit is juis Key se aanstelling wat sorg dat die riemtelegramme oor Kirsten se moontlike aanstelling weer momentum kry.

“Gary sal waarskynlik ’n goeie keuse as hoofafrigter wees,” het hy in sy dae as krieketkommentator gesê.

“Hy was glad nie ’n slegte speler nie en hy het oorgenoeg internasionale ervaring; soos wat sy suksesvolle vennootskap met MS Dhoni (voormalige Indiese kaptein) getuig.”

Dan meen iemand soos Kevin Pietersen dat Ford se getuigskrif vir die beste leesstof sorg.

Onderhoude is Maandag en Dinsdag gevoer en die Engelse krieketraad behoort binnekort die naam van die gekose kandidaat bekend te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.