McKenzie moet kolwers regruk

Neil McKenzie (Foto: AFP)

Selfs al is hy nie in ʼn permanente hoedanigheid aangestel nie, het Neil McKenzie seker een van die moeilikste take in wêreldkrieket: Om die ploeterende Protea-kolwers reg te ruk.

Die 47-jarige voormalige Protea-speler is as die nasionale kolfwerkkonsultant vir die komende reeks teen die Wes-Indiese Eilande aangestel en hy gaan waarskynlik ʼn baie besige man wees.

Suid-Afrika sukkel deesdae om genoeg lopies op die telbord te kry en ʼn mens is eintlik dankbaar as hulle 200 lopies in een van hul beurte kan aanteken.

Nodeloos om te sê kan toetse nie só gewen word nie en die Proteas se nuwe afrigterspan sal indringend daarna moet kyk.

“Ons is dankbaar dat Neil ingestem het om die kolwers by te staan terwyl die permanente aanstellingsproses gefinaliseer word. Hy het ʼn goeie verhouding met Shurki [Conrad] en hulle het saam die SA o.19-span afgerig. Ons sien uit na hul hernieude vennootskap,” het Enoch Nkwe, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket, gesê.

McKenzie het in sy 58 toetse 3 253 lopies teen ʼn gemiddeld van net meer as 37 geslaan, terwyl hy onlangs nog deel van die Bangladesj-afrigtersopset was.

In ander verwikkelinge is Kruger van Wyk die nuwe veldwerk-ghoeroe, terwyl dit Charl Langeveldt se laaste reeks aan die stuur van die boulers sal wees.

Piet Botha – wat 118 wedstryde vir die Grens gespeel het – sal ná afloop van die twee toetse sy skoene volstaan.

“Ek is bly dat Piet deel van die span word. Ek het persoonlik gesien waartoe hy as afrigter in staat is by die Nasionale Akadamie en verskeie belowende spelers het onder sy toesig floreer. Terselfdertyd is ek ook opgewonde om saam met Kruger te werk,” het Conrad, hoofafrigter, gesê.

Van Wyk het sy internasionale buiging vir Nieu-Seeland gemaak, terwyl hy ook die Protea-vrouekrieketspan se veldwerkafrigter was.

Protea-spanbestuur vir die Windies-reeks: Shukri Conrad (hoofafrigter), Khomotso Masubelele (spanbestuurder), Neil McKenzie (kolfwerkkonsultant), Charl Langeveldt (boulafrigter), Kruger van Wyk (veldwerk-afrigter), Matthew Reuben (analis), Runeshan Moodley (kondisioneringsafrigter), Sizwe Hadebe (fisioterapeut), dr. Hashendra Ramjee (spandokter), Kyle Botha (logistiek), Zunaid Wadee (sekuriteit) en Lucy Davey (mediabestuurder).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Goeie aanstelling, hy kon staan by daai kolfkamp. Hoop hy ruk ons toporder reg. Alhoewel enige iemand sou goed lyk teen die Windies op die oomlik. Ons moet minstens 60lopies sonder verlies he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.